Korreltjie klein, korreltjie dorp
2012-01-20 22:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
‘My hart lê in die Vrystaat,” staan op Nellie Dlamini se oranje T-hemp geskryf.
Sy werk in die Slagskaap-slaghuis en die Pikkewyn-wynwinkel op die plaasdorp Verkykerskop in die Noordoos-Vrystaat, sowat 40 km van Harrismith.
Die slaghuis voorsien biltong en vark-cabanossi wat aan die besoekers van die Smiley’s-restaurant by die algemene handelaar uitgedeel word.
Die paartjie Matt Hoffmann en Beth Hillary is eienaars van dié winkels. Matt se skooldae-vriendskap met die sanger Chris Chameleon het spontaan tot ’n vennootskap gegroei en saam besit die drie entrepreneurs verblyfgeriewe en die bogenoemde eiendom op die dorp. Chris vertoef ook graag ná sy besige toerskedule op sy plaas hier naby. Die akteur Frank Opperman het ook grond op die dorp gekoop.
Skaapkop op Verkykerskop
“Ons het jare lank ’n plaas besit sowat 15?km buite Verkykerskop. Ons het gereeld naweke vanuit Johannesburg hier kom kuier, tot ons sigarette een aand klaar was en ons nêrens iets kon kry nie,” sê Beth. “Ons het ’n geboutjie gesien en Deon Maas (skrywer, musiek- en mediabestuurder) het my met ’n sakeplan gehelp om eiendom te huur.”
Die egpaar het ’n huurooreenkoms vir ’n klein eiendom aangegaan en die res is geskiedenis.
“Toe ek en Matt hier ingetrek het, het die boeregemeenskap ons met skaapkop-afval verwelkom. Eet moes ek dit eet,” sê Beth.
Vandag is Matt en Beth gekonfyt in die onthaalbedryf. Sy moes onlangs 30 skaapkoppe vir ’n boeregeselskap voorberei. “Tannie Annetjie Wessels van die omgewing wat die Afsluit-gastehuis oorkant die pad gerestoureer het, het my daarmee gehelp. Sy bak ook troukoeke vir die troues.”
Sommige naweke, veral as daar bruilof gevier word, is die dorp tjok-en-blok vol, en daar is nie plek vir verdwaalde besoekers nie.
Die oornaggeriewe sluit in die Sentrale Motel, die Townsview-huis, die Afsluit-gastehuis, die Oupost Inn en die Ou Eenmanskooltjie-kothuis (wat uit die 1950’s dateer), elk met sy eie karakter wat by die sandsteen-omgewing en panoramiese vlaktes insmelt.
“Die grootste troue wat ons hier gehou het, was vir 227 mense,” sê Beth.
Dit is juis so ’n bruilofsfees wat gesorg het dat ons eers op ’n Maandag by Verkykerskop kon gaan afsaal. Beth se hond, Tippex (só genoem vanweë sy wit voete en swart lyf) wag ons in.
Tog is dit bedrywig op die dorp. “Ons hou gereeld vendusie-dae waar bokke, skape, perde en beeste opgeveil word,” sê Annetjie Wessels. Dan kom die vroue saam en eet ons kouevleise, slaaie, en kuier almal oor en weer,” sê Annetjie.
Terloops, die plaaslike polisiestasie by Verkykerskop se grootste kopseer is die veediefstal wat in die omgewing plaasvind.
By Smiley’s word ons ontbyt van gerookte skelvis en eiers in blik-eetgerei voorgesit. Dis hier dat jy sien hoe die plaaslike bevolking in hul veelkleurigheid opdaag om hul maandelikse toelae te kry.
Saans of selfs smiddae kan jy die allerheerlikste pizza by Smiley’s bestel. Of op die stoep sit en teug aan jou wyntjie terwyl die son in die stille niet verdwyn.
Geloftedag is ook steeds ’n groot saamtrekdag in die omgewing. Dan trek Chris, Frank, Valiant Swart en hul vriende ook in Oktober na die dorp vir die Verkykerskop-fees.
Herken die fliekgebied
Fliekvlooie wat die Afrikaanse musiekprent Platteland gesien het, sal Verkykerskop dadelik kan eien. Die fliek is in Januarie op Dirk en Riana van Niekerk se plaas, Dwarsspruit, verfilm.
“Ek ken Sean Else, want hy het ook eiendom in die omgewing. Die musiekvideo’s van Bok van Blerk se De la Rey en Tyd om te trek, Eden se Running Away en Kwart oor vyf en Lianie May se Vergeet my nie is op die plaas verfilm.
“My vrou se naam is ook dieselfde as die hoofkarakter, Riana van Niekerk (gespeel deur Lianie May) in Platteland.
“Dit was veral lekker om Steve Hofmeyr te ontmoet,” sê Van Niekerk opgewonde.
Die dorpgebied is op die oorspronklike plaas Aansluit gestig.
Dit was die aansluitingspunt van vyf paaie wat vanuit alle rigtings bymekaar kom. Vroeër is nagmaal op die plaas gehou.
Die eerste huisie op die plaas was die “hartbeeshuisie”, wat nou, 120 jaar later, vir kampeerders beskikbaar is. Die plaas lê in ’n bewaringsgebied. Besoekers kan ook hier stap, visvang, perdry en na voëls kyk.
Tydens ons staptog op die Aansluit-landgoed, in die rigting van drie damme, brand die Vrystaat-sonnetjie fel.
“Maar vroeër die jaar was dit bibberend koud teen -13 ºC. Sommige winters kan dit -17 ºC hier op die vlaktes word.
“Die sneeu was amper heuphoogte. Ons en die bure het vroeg-vroeg begin sjerrie drink teen die koue,” lag Beth.
As jy volgende keer van die N3-roete wil afwyk, gaan soek dié wegkruiperdorp. Dit lê soos korreltjie klein, korreltjie sand,” soos Chris Chameleon graag sing.
Inligting
Stuur ’n e-pos aan Matt Hoffmann of Beth Hillary by matt@zippnorth.co.za. Skakel: ?058?625?0071; ?079?873?0470 of ?073?282?4840.
Die dorp is 40?km van Harrismith geleë. Die plaas Dwarsspruit is ook minder as ’n uur geleë van krygsvelde soos Bloedrivier, Amajuba en meer.
Skakel ook Louise Grobler by 083 628 9699. Skakel Riana van Niekerk van die Dwarsspruit-plaas by 058 625 0062 of 072 651 6224.
In die omgewing:
Warden-gholfklub: 38?km; Harrismith-gholfklub: 50?km; Seekoeivlei-natuurreservaat: 54?km. Memel, Swinburne en Vrede is van die omliggende dorpe.

Die restaurant Smiley’s by die algemene handelaar behoort aan Matt Hoffman en Beth Hillary. Foto’s: Marzahn Botha

Townsview is een van die vele verblyfplekke op die plaasdorp.

Die Vrystaatse vlaktes, met die damme, valleie en plase by Verkykerskop.