Kostendense vir 2012
2012-01-20 22:26
1. BESPARING/NOSTALGIE: Kospryse was nog nooit so hoog nie, en die fokus gaan vanjaar dus val op goedkoper vleissnitte en die gebruik van outydse familieresepte (dikwels met ’n kinkel). Mense gaan meer tuis kuier.
2. ONTSPANNE ETENSTYE: Dis “in” om ’n ontspanne atmosfeer te skep, of jy nou tuis of in ’n restaurant eet. Minder dekor, gedeelde tafels en vintage-breekware is wagwoorde.
3. KOS VAN ELDERS: Kos uit Skandinawië (diepgebraaide mos, enigiemand?), Peru (veral ceviche, waar byvoorbeeld salm met suurlemoensap “gaargemaak” word) en Marokko is “in”.
4. KALFSVLEIS-FRIKKADELLE: Kalfsvleis is ’n byproduk van melkkoei-boerderye (dit is manlike kalwers) en dus is dit nie ’n vermorsing nie. Soutbeesvleis gaan glo ook vanjaar op meer mense se borde wees.
5. PIEKELS: Nie noodwendig in asyn nie, maar ook met behulp van natuurlike fermentasie. Suurdeegbrood en Koreaanse kimtsji (amper soos suurkool) is modieus.
6. OLIEBOLLE EN DIEPBRAAI: Oliebolle kry ’n nuwe voorkoms, gegeur en gevul met lekkernye soos swartbessie-jellie, crème brûlée of panettone. Churros, ’n soort Spaanse oliebol gevul met karamel, sjokolade of selfs koejawel, en gedoop in dik, warm sjokoladesous, is ook witwarm.
7. SOET EN SOUT: Dit het begin met gesoute karamelsous en verwag nou bros stukkies spek in sjokolade wat in gebak gebruik word – soos ’n esdoringstroop-makrolletjie (macaroon) of as vulsel vir ’n oliebol. Dink aan hoe die Amerikaners hul pannekoek, esdoringstroop en spek eet – die lyn tussen soet en sout vervaag.
8. MANS IN DIE KOMBUIS: Deesdae neem al hoe meer mans die rol van tuis-sjef oor – goed so!
Lekker somer resep
Kersie-en-bessie-pons
Onthou daardie somerpartytjies van weleer waar jou ma se pons ’n treffer was.
Dié pons-resep is ’n vrugtestroop wat met limonade of sodawater en gemmerlim verdun word. Laat die alkohol weg vir die kleinspan. Die speserye is vanielje (vir ’n heerlike soet aroma), kaneel (voeg ’n lekker geur by), ster-anys (al hou ek nie van die geur op sy eie nie, werk dit hier) en rissies (dit voeg nie skop by nie, dit verbeter net die geure van die ander speserye). Pas die speserye (en die bessies) aan na gelang van hul beskikbaarheid en jou smaak vir ’n heerlike, verfrissende somerdrankie.
1,5 liter bessie-en-kersie-sap van die Real Juice Company
250 ml suiker
1 vanieljepeul, oopgesny en sade uitgekrap
1-2 kaneelstokkies
1-2 gedroogde rissies
2-5 ster-anyse
400 g aarbeie, in kwarte gesny
2x200 g bakkies bloubessies en kersies
250 ml lemmetjie-vrugtestroop (lime cordial)
375 ml wit rum
375 ml (bessie-) vodka
1,2 liter limonade/sodawater
600 ml gemmerlim
ys en mentblare, om te bedien
- Bring die sap, suiker en speserye in ’n kastrol oor matige hitte tot kookpunt. Roer totdat die suiker opgelos het.
- Sodra dit kook, voeg die kersies by, wag ’n minuut en verwyder die kastrol van die hitte.
- Voeg die ander bessies by en roer. Laat afkoel, verwyder die speserye en verkoel.
- Meng die bessiemengsel met die lemmetjie-vrugtestroop, rum, vodka, limonade of sodawater en gemmerlim.
- Sit voor in ’n mooi outydse ponsbak met die ys en die mentblare.
- Die resep maak ongeveer 5 liter pons.