Kry blyplek hoog in die takke
2012-02-04 06:00
S?uid-Afrika het die wêreld ?aan sy voete danksy alles ?wat die land se wildreservate bied – van pakkette wat jou binne ’n week na al die beste natuurreservate neem tot die soort besoek wat ’n geheime operasietjie insluit en waarna middeljarige, Amerikaanse tantes met ’n plat magie kan terugkeer huis toe.
Enigiets is moontlik teen die regte prys.
Baie van ons juwele is op die buitelandse mark gerig, wat ’n wegbreek in die bos vir ’n Suid-Afrikaner ’n duur besigheid maak.
En vir lugversorging in die middel van die bos kan die prys per nag maklik met R1 000 opgestoot word.
Toe vind ons ’n bekostigbare en onopgesmukte dog luukse juweel.
Die Pezulu Tree House Game Lodge is vier jaar gelede deur ’n Luxemburgse-paartjie, Claude en Lydia Huberty, gekoop. Hulle wou dié boomhuis-paradys juis toeganklik vir Suid-Afrikaners maak.
“Ons het ons wittebrood in 2001 hier kom vier en heeltemal verlief geraak op jul winters,” vertel Huberty opgewonde soos ’n skoolkind oor sy boomhuise. “Hier was vyf boomhuise, maar ek het nog drie spesiale boomhuise aangebou, elkeen uniek.”
Vir elkeen van die bome het hy ’n spesifieke plan gehad en elke keer was hy beïndruk met die eindproduk.
“Elke boom se natuurlike groei word in ag geneem en ons bou dit só dat die takke steeds ruimte vir beweging en groei het én sodat die gaste ’n luukse omgewing het. Die boomhuis waarin jy bly, The Dream Tree, rus op twee pragtige maroelabome. Vir die boom net hier oorkant visualiseer ek eendag ’n drieverdiepingboomhuis.
“Maar dit eers daar gelaat,” en hy lag kliphard vir sy eie idees.
Dié man laat idees gestalte kry hoog in die bome; met ’n natuurlike, vars bries en ’n unieke uitsig.
“En as daar groot donderstorms broei, kry jy ’n gratis ligvertoning.”
Om dit eksklusief te hou laat hulle net 25 gaste toe.
Die verwelkoming is gul; met yskoue sap by die hoof-lodge, waar die etes ook bedien word. Daar is ook ’n boomhuis-kroeg waar jy kan ontspan voordat iemand jou help om die tasse teen die dek uit te sleep.
DROOMBOOM
Dié boomhuis waarin ons tuisgaan, tussen die twee maroelabome, is inderdaad ’n droom. Die hemelbed kan buite op die houtdek geskuif word om onder die sterre te kan slaap. Gelukkig is daar remme aan die wieletjies en muskietnette, wat nie net romanties lyk nie, maar ook broodnodig is. Daar is ook ’n borrelbad, ’n ruim sitkamer, rusbanke en ’n hangmat waarin jy kan lê en kyk hoe die kameelperde kom water drink.
’n Afsonderlike ingang lei na ’n buite-stort vir twee op die houtdek, wat met die kopbene van twee kameelperde versier is wat Huberty in die omgewing opgetel het.
Die aand het hulle vir ons ’n ysbak gebring om die sonsondergang met ’n glas vonkelwyn te kan geniet voordat ons ons by die res van die gaste in die boma aangesluit het.
Daar is ’n gebraai en gekuier totdat elkeen relatief vroeg weer na sy boomhuis verdwyn het.
’n Mens moet die slaaptyd goed benut, want hulle maak jou om 05:30 vir ’n wildrit wakker. Die aangrensende reservaat, Thornybush, word ook gebruik om gaste op ’n grootvyf-rit te kan neem.
“Olifante? Nee!” En Huberty lag weer uitbundig.
“Dié boomhuise sou lankal plat gewees het!”
Hou liefs by een wildrit per dag, veral as dit warm is, en gaan lees ’n boek in die hangmat.
VERLIEFDES EN GESINNE
Elke boomhuis is uniek; een van die redes waarom gaste herhaaldelik terugkeer.
Die Mountain View-boomhuis is die hoogste (7 m); die wittebroodsboomhuis is oor twee vlakke in ’n huilboerboon-boom gebou; en dan is daar die gesinsboomhuis, wat ’n gesin met tot vyf kinders kan huisves.

Die Mountain View-boomhuis, teen 7 m die hoogste van Pezulu se hutte, bied ’n asemrowende uitsig oor die Drakensberg.