Vaar Valparaiso binne
2011-12-02 22:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Bont huisies staan ingedruk teen steil heuwels en tussen lowergroen plantegroei.
Van ver (van die busstasie waar jy ná ’n 2 uur-rit van Santiago afklim) lyk dit georganiseerd en skoner as wat ’n mens verwag. Tussen die geboutjies is ascensores (kabelhysbakkies) wat tikke-tak-tikke-tak opwaarts kruie.
Valparaiso is ’n Unesco Wêrelderfenisgebied, maar dit is veral bekend as die digter, skrywer en politikus Pablo Neruda se La Sebastiana-huis. Net dít regverdig ’n uitstappie daarheen. Dis wat óns laat gaan het.
Valparaiso – onder die heuwels – is nie oral toerisvriendelik nie.
Sommige reisgidse waarsku teen rondloperhonde wat saans gevaarlik kan wees. Ons sien ’n paar brakke wat lyk of hulle gedurende die dag hul roes afslaap en ’n paar plaaslike mans wat lyk of hulle gevaarliker as die honde kan wees.
Die vismark was definitief aan die ongure kant en ons is vinnig daar weg.
Kleurryke sinkplaatbuurt
Nietemin is dit interessant om deur Valparaiso te stap.
’n Blok of twee onder die busstasie is die buurt se groentemark. Behalwe vir ’n Chileense bergie of sakkeroller hier en daar is die Chilene verheug om buitestanders in hierdie deel van hul dorp te sien.
Die geel-en-groen onderdakmark beslaan sowat ’n straatblok.
As jy jou oë na bowe slaan, sien jy die tipiese reënboogdakhuisies van Valparaiso wat van heuwel na heuwel strek. Regdeur die stad en om die baai. Dis ’n kleurryke sinkplaatbuurt.
Sommige gehuggies het drie verdiepings – die eerste van stene, die tweede van sinkplaat en die derde soms van glas. Van hulle lyk of die helder verf al is wat dit nog aanmekaarhou.
Valparaiso was eens ’n belangrike hawestad en die finansiële hoofkwartier van Chile. Dit moes lank gelede gewees het, maar al Valparaiso se sjarme het nie verlore gegaan nie. Die welvaart van eens word in die ascensores weerspieël.
Juis met een van hierdie ascensores bestyg ons die heuwel waarop La Sebastiana geleë is.
Met die eerste oogopslag is La Sebastiana blóú en so ietwat saamgeflans; of dit stuk-stuk gebou is.
Speelse huis
Neruda het drie groot liefdes in sy lewe gehad en was meer as een keer getroud.
Behalwe om te dig en skryf, het hy ook as konsul in verskillende lande gewerk. Sy eerste boek is gepubliseer toe hy nog op universiteit was. Hy het op ’n manier twee lewens gelei – as skrywer en digter en as politikus.
Neruda se huis is speels en van amper elke vertrek kyk jy uit oor die Valparaiso-heuwels. Daar’s ’n amperse lewensgrootte hobbelperd; daar’s eetborde geïllustreer met warmlugballonne; daar’s filigrein (filigree) toiletdeure; daar’s regte boegbeelde.
In die koffiewinkeltjie kan jy Heidi-en-Peter-broodjies met gesmelte kaas bestel.
Neruda het geglo (veral) mans moet nooit hul speelsheid verloor nie en in hierdie huis van hom straal dit uit elke hoek. Hy het sy gunsteling-leunstoel “Die Wolk” genoem.
In die boonste deel van sy huis was ’n studeerkamer wat aan die wind uitgelewer was. Dit het vir hom soos ’n skip op die see gevoel as hy daar sit terwyl die wind waai. Neruda was mal oor skepe, maar het verkies om hom nie op water te begeef nie. Hy’t homself as ’n “kaptein van die land” bestempel.
Ná ’n uitgerekte besoek aan La Sebastiana was daar nog tyd vir ’n oudhedewinkel of twee, maar ons het seker gemaak dat ons voor donker ons bus terug na Santiago haal.