huis + tuin
2012-01-20 22:26

Louisa Holtzkampf van George skryf: Ernst, skoonma-se-tong (Sansevieria) is een van my gunstelingplante. Ek verstom my elke dag aan die wonders van die natuur.
Die skoonma-se-tong groei gereeld deur die WeedGuard wat ek op die gruis gesit het om die onkruid te verhinder om te groei. Dit is so sterk dat ek nie met my vinger ’n gat daarin kan steek nie, maar die plant druk daardeur. Hoe op aarde kry die plant dit reg met sy ronde punt?
Ek stem saam, skoonma-se-tong het ’n merkwaardige groeiwyse. Ek het ook gesien hoe sy uitlopers by enige gaatjie inkruip. Ek het ’n ou, dooie kokerboom in die glashuis by Kirstenbosch vir vertoning.
Nou die dag steek ’n Sansevieria sy kop uit bo in die droë boom. Die plant (Sansevieria aethiopicum) het regdeur die veselagtige stam, van onder tot bo in sy takke, gegroei en te voorskyn gekom. Dit is juis daardie ongelooflike groeiwyse wat maak dat hy so goed oorleef.
Eintlik aangepas by weiding en as grootwild hom vreet bly die uitlopers agter en dit groei soos kikoejoe net weer.
Die sterk, veselagtige blare sorg dat die roset skoon losbreek van die ondergrondse uitloper. Die uitlopers sal net weer ’n nuwe blaarroset groei. Hoe hy deur die WeedGuard groei, is as volg: Sy groeipunt (wat die plant kan laat aanpas volgens behoefte) groei aanvanklik tussen die nou ruimtes. Die deel verdik en rek of skeur die WeedGuard oop. Die groeipunt is nie altyd so rond nie; dis gespits voor. WeedGuard is dus nie so ’n doeltreffende “wag” nie.
Vir lesers wat nie met skoonma-se-tong vertroud is nie: Die groep is endemies aan Afrika en omliggende dele en groei veral in bosveld en dorre-bosveld. Dit is vetplante wat tot die drakeboom-familie (Dracaenaceae) behoort.
Die mooi blomme gaan oop in die laatmiddag en snags en die plant word deur motte bestuif.
Daar is sowat 70 soorte en ses kom in Suid-Afrika voor. Hulle word vir hul leeragtige, bont blare gekweek. Dit is ’n baie aanskoulike plant. Een soort het gevaarlike dorings. Die gemsbokhoring (Sansevieria pearsonii) groei in digte plate in die bosveld, het skerppuntige blare en word soms bobbejaan-se-dood genoem. Skoonma-se-tong-soorte het almal sterk vesels wat deur voëls gebruik word vir nesbou en die San het dit jare gelede gebruik om tou van te maak.
Aanplantings is al oorweeg vir die vervanging van sisal (Agave sisalana). Gewoonlik is daar ’n hele netwerk onder die grond. Die sap word ook vir oorpyn gebruik en soms as teenvoeter vir aambeie. Die bekendste skoonma-se-tong is Sansevieria trifasciata en dié mooi plant pryk in baie geboue en op mense se stoepe.
Die kultivar met die wit blaarrand is baie gewild. Inheemse soorte sluit in die breëblaar-skoonma-se-tong (S. hyacinthoides), smalblaar- skoonma-se-tong (S. aethiopi- cum), gemsbokhoring (S. pearso-nii), die Zoeloeland-skoonma-se-tong (S. concinna), Tongaland- skoonma-se-tong (S. metallica) en die Venda-skoonma-se-tong (S. hallii), wat dik, leeragtige en geutvormige blare het.