Die
ANC se beheptheid daarmee om alles in die land te wil beheer, het vandeesweek
weer uitgeslaan in sy voorlegging aan die kommissie vir persvryheid.
Ironies genoeg besef senior leiers van die ANC dat hulle nie die vermoë
het om alles te beheer nie.
Luister maar hoe daar telkens verwys word na “capacity problems” of die
nypende “skills shortage”.
Dit
weerspieël die ANC se frustrasie omdat die leiers knoppies druk om dinge te laat
gebeur, maar dan agterkom die skakelaar is dood.
Omtrent soos wat die res van ons dikwels voel wanneer ons diens van die
staat wil kry in hospitale, op paaie, met munisipale rekeninge of op vele ander
terreine.
In
sulke omstandighede sou dit vir ’n regering raadsaam wees om duidelike
voorkeursake te bepaal. Ontplooi dan die beskikbare vermoëns en vaardighede om
op die voorkeurgebiede ’n groot verskil te maak. Soos onderwys, misdaad en
werkskepping.
Maar pleks van fokus op die heel belangrikste kwessies wat bestuur kan
word, is dit asof die omvang van die uitdagings die ANC verwar tot by die punt
waar hy net meer wette wil maak om alles te probeer beheer.
Nou
is dit die koerante wat in sy visier is, want hulle is die draers van slegte
nuus. Dis ons wat swak dienslewering, misdaad en korrupsie in die kollig plaas.
Die
ANC se propaganda skets ’n prentjie van ’n swak en korrupte pers wat met ’n
appèltribunaal beheer moet word. Daardie tribunaal moet deur die parlement
aangestel word. En dan noem hulle dit ‘onafhanklik’.
Diegene wat al onder negatiewe media-aandag deurgeloop het, kan dink
dis koerante se verdiende loon om vasgevat te word.
As
’n regering die mag gegee word om vas te vat, moet ’n mens altyd dink hoe dit
sal wees as iemand soos Julius Malema daardie mag kry.