Boere se nuwe prater van mooi woorde
2010-09-07 22:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Suid-Afrika se kommersiële boere is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.
Daarom sal hulle nie te opgewonde raak nie oor die uitlating van mnr. Langa Zita, nuwe direkteur-generaal van landbou, bosbou en visserye, dat daar 16 jaar ná die koms van volwaardige demokrasie weer gekyk moet word na wat voorheen in die landbousektor gewerk het en wat weer ingestel kan word.
Dié deurwinterde kommunis en ANC-kader het ook gesê sy vernaamste doelwit sal wees om seker te maak dat dít wat in landbou werk, gesteun word.
“Kommersiële landbou, in ag genome al sy uitdagings, wérk; dit verseker voedselsekerheid,” het Zita gesê.
Met die eerste oogopslag klink dit seker goed, maar mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, het ’n realiteitsdemper daarop geplaas deur te sê hoewel hy Zita se aanstelling en sy uitlatings verwelkom, het hy al sulke praatjies tevore gehoor.
En hy kon bygevoeg het: Dit het grootliks by praat gebly. Dit is die kruks van die saak.
Die ANC-regering is vernuftig met die uitdink en propagering van idees, maar pateties wanneer dit by die uitvoering van die planne kom.
Me. Tina Joemat-Pettersson, landbou-minister, het soos Zita en pres. Jacob Zuma al heelwat mooi goed oor die boere te sê gehad.
Tog het alles wat hulle belowe het presies net dit gebly – beloftes.
Daar was aanvanklik groot hoop onder die boere toe Joemat-Pettersson 19 maande gelede hul minister geword het.
Dié hoop het verlede maand plek gemaak vir ontnugtering toe die minister se departement die kommersiële boere op die plaaswerkersberaad in Somerset-Wes in die rug gesteek en tot sondaars gemaak het.
Ja, daar is sekerlik gebruike van voor 1994 wat weer ingespan kan word.
Soos die subsidiëring van sekere bedrywighede.
Die werklikheid is egter die landbou-speelveld in Suid-Afrika is heeltemal anders as in 1994.
Tóé was daar nog 60 000 kommersiële boere, teenoor die minder as 40 000 nou.
As die regering voedselsekerheid wil verseker vir die land se byna 50 miljoen mense, sal Zita se mooi woorde vinnig in dade omgeskep moet word.