Botsings oor Iran kan tot oorlog lei
2012-01-25 21:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Wanneer state polities bots, reik hulle verklarings uit, hou toesprake, ensovoorts, waarmee hulle ’n bepaalde politieke effek wil verkry.
Maar, soos die geskiedenis al herhaaldelik gewys het, as sake nie sorgvuldig beheer word nie, het sulke politieke botsings die nare gewoonte om tot militêre botsings te eskaleer – sonder dat enige van die deelnemers dit wou hê.
Met die politieke konfrontasie in die Persiese Golf loop die internasionale gemeenskap nou baie na aan die skeidslyn waar diplomasie in oorlog oorgaan.
Die Europese Unie (EU) het dié week ’n olieboikot teen Iran aangekondig en alle bates van die Iranse sentrale bank in Europa bevries.
Dit volg op soortgelyke Amerikaanse stappe en is in reaksie op die bevinding van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) dat Iran heel waarskynlik op die ontwikkeling van kernwapens afstuur.
Wat sal gebeur as Iran, soos hy dreig, die Straat van Hormoes – die nou deurgang van die Persiese Golf na die Indiese Oseaan – sluit 20% van die wêreld se olie vloei hierlangs.
Die kort antwoord is: Dan is daar perde.
Iran kan die straat tydelik met seemyne, aanvalsvaartuie, mini-duikbote en missiellanseerders sluit, maar weens die oorweldigende Amerikaanse vuurkrag kan dit nie volgehou word nie.
Tog, as Iran ’n soort maritieme guerrilla-oorlog hier voer, kan hy die verkeer deur die straat langdurig ontwrig, en die gevolg sal elke motorryer duidelik by die petrolpomp gewaar.
Dit kan die ekonomiese krisis vererger.
Die kans bestaan dat Amerika so iets sal aangryp om dan ook maar die Iranse kernaanlegte uit die lug te probeer vernietig.
In ’n verkiesingsjaar kan dit vir pres. Barack Obama voordelig wees by die stembus.
Maar uiteindelik is dit ’n waagstuk waarvan niemand die uiteinde kan voorsien nie.
Welkom in die wêreld van die internasionale politiek.