Bulle moet Heyneke in vrede laat
2012-01-26 21:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Een van die laaste erekodes wat in beroepsport oorgebly het, is dat jou land áltyd belangriker as jou provinsie of klub is.
Nasionale trots is immers op die spel.
Dis die hoogste sport wat enige speler kan bereik en ook die een keer wat spelers nie aan vet kontrakte en borgskappe behoort te dink nie.
Kan ’n mens jou indink dat een van die wêreld se grootste gholfsterre soos Tiger Woods dit van die hand sou wys om die VSA in die Ryderbeker te verteenwoordig?
Dieselfde geld rugby en sokker se Wêreldbeker-toernooie en byna alle ander sportsoorte.
Die bohaai wat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) nou maak omdat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Heyneke Meyer as die Springbok-afrigter wil aanstel, is kleinlik en onnodig.
Ná die debakel oor Peter de Villiers se aanstelling in 2008 wou almal in die land, maar veral Saru, dié keer hê die Bok-afrigter moes sonder kritiek en met waardigheid bekend gemaak word.
Die BBM se verklaring het hom én die land daarvan ontneem en só ook Meyer se groot oomblik bederf.
Die Bulle kan Meyer buitendien nie keer nie, want hy kan ’n vrywaringsklousule waaraan ’n skadevergoedingseis gekoppel is, gebruik om sy bande met die Bulle te verbreek.
’n Mens het begrip daarvoor dat die Bulle teleurgesteld is. Hulle het waarskynlik baie in hom belê en groot hoop op hom gestel.
Maar dis die een keer waar die Bulle op hul tande moes byt en Meyer in vrede moes laat gaan het.
Die Springbokke is ons belangrikste span. Nie die Bulle, WP of Sharks nie.
As die Bokke wen, is die paviljoene vol, groei belangstelling in die sport en syfer die voordele uiteindelik na die unies deur.
As provinsiale belange swaarder weeg as die nasionale span, is daar ’n fout in die struktuur van SA rugby wat reggestel moet word.