Cronin wys debat is tussen ras en rede
2010-09-08 21:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dit kan seker in Suid-Afrika gebeur: Die land se swart sake-elite, vermoedelik kapitaliste, nooi ’n ekonomiese analfabeet soos mnr. Julius Malema na ’n mynboukonferensie – net sodat hy allerlei sotlikhede kan kwytraak oor die “nasionalisering” van myne.
Malema word nie in die bek geruk deur ’n swart kapitalis nie.
Nee, ’n wit kommunis, adjunkminister Jeremy Cronin, is die stem van rede en nugterheid.
Cronin het eergister nie doekies omgedraai nie.
Hy stel voor die vereiste dat mynmaatskappye 26% van hul aanhouding aan swart aandeelhouers afstaan, word afgeskaf.
Dit is ’n rookskerm vir hebsug en selfverryking deur swart elitiste wat hoegenaamd geen waarde toevoeg nie, het hy gesê.
Dié vereistes is ook die rede waarom Suid-Afrika die grootste opswaai in hulpbronmarkte in menseheugenis misgeloop het.
En ons is ’n gróót mynbouland.
’n Bulmark in hulpbronpryse is ’n kapitalistiese droom wat waar word, maar in die wêreldwye opswaai van 2004 tot 2008 het Suid-Afrika se mynbedryf geen duim gegroei nie.
Mynbou in Australië en Brasilië het in dié tyd met tot 400% gegroei.
Dat Cronin besef hoeveel ons verloor het – en hom steeds ’n kommunis noem! – wys in welke mate die ou tweestryd tussen “kapitalis” en “kommunis” verval het.
Cronin daag ’n hoeksteen van die ANC se ekonomiese beleid uit met die voorstel dat die swart eienaarskapvereistes vir mynmaatskappye geskrap word.
Cronin staan blykbaar nie alleen nie.
Agter die skerms is ’n ernstige en fundamentele ideologiese stryd in die regerende alliansie aan die gang.
Buitestanders kry, soos nou op die mynboukonferensie, net elke dan en wan ’n glimp van dié debat.
Onder die oppervlak word die politieke landskap geleidelik, maar drasties herskik.
Dit lyk ál minder na ’n eenduidige stryd tussen kommunisme en kapitalisme.
Cronin se toespraak laat dit na intellektuele luiheid lyk om aanhou voor te gee die beleidsopsies in Suid-Afrika is ’n eenvoudige keuse tussen kapitalisme en sosialisme.
Dalk is die eintlike debat tussen “ras” (soos in velkleur) en “rasionaliteit”.