McBride nie geskik vir dié sensitiewe pos
2010-07-21 23:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die blote feit dat mnr. Robert McBride oorweeg word as Tshwane se nuwe metropolisiehoof grens aan malligheid.
McBride is ’n hoogs omstrede mens.
Van hy in 1987 die bom by Magoo’s Bar geplant het tot en met sy aanstelling as metropolisiehoof by Ekurhuleni boer hy in die nuus – en heel dikwels om die verkeerde redes.
McBride het later amnestie van die Waarheid-en-versoeningskommissie gekry vir die ontploffing waarin drie mense dood is.
’n Mens het gehoop sy openbare lewe is verby nadat hy ná ’n onstuimige tydperk as metropolisiehoof van Ekurhuleni in September verlede jaar, twee maande voordat sy kontrak sou verstryk, afgedank is. McBride betwis die afdanking in die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.
Nou duik sy naam weer op. Dié keer as ’n kandidaat op die kortlys van vyf vir die pos van Tshwane se nuwe metropolisiehoof.
Dit is ’n sensitiewe pos, wat deur ’n onkreukbare mens met integriteit beklee moet word.
Die paneel van die Tshwane-metroraad wat hom op die kortlys geplaas het, moet tog weet dat daar ’n swaard van dronkbestuur, regsverydeling en bedrog oor sy kop hang.
Wat gaan die paneel doen as hy skuldig bevind word? Hom afdank en weer begin soek na ’n nuwe metropolisiehoof?
Daar kan tog nie so min talent wees nie. As daar nie genoeg geskikte kandidate is nie, behoort die paneel die werwingsproses oop te gooi om nuwe kandidate te kry.
Die probleem is heel waarskynlik nie talent nie, maar omdat die paneel ’n politieke aanstelling wil maak.
’n Lojale “kader” moet in die pos “ontplooi” word, al het die land sy vingers hoeveel keer al met dié aanstellings verbrand.
Die Tshwane-metro kan vir ’n slag die inwoners en dienslewering voor politieke lojaliteite stel.
McBride behoort nie eens vir dié pos oorweeg te word nie, wat nog te sê die kortlys haal.
Hy was net te veel kere in die verlede by omstredenhede betrokke.