Onbeholpe SA leer harde AU-les
2012-01-31 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die skop in die tande wat Suid-Afrika pas by die Afrika-Unie (AU) in Addis Abeba gekry het, is ’n ontnugterende les vir die Zuma-regering: “Jy oorskat jou rol in en namens Afrika.”
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma verduur vandag die pyn van persoonlike vernedering ná ’n ondeurdagte en lomp veldtog deur Suid-Afrika om bestuursbeheer oor die AU te kry.
Suid-Afrika het die perke van sy invloed oorskry en die grootste sonde in Afrika gepleeg. Hy het mag buite die Afrika-kollektief nagestreef.
Die ANC-regering het ook nou in die oë van Afrika te lank rente getrek op sy statuur as die “Reënboognasie”.
Meer as 25 lidlande het vir die eerste keer in die AU se tienjarige bestaan besluit dat Suid-Afrika lank genoeg op sy eie golf van post-apartheidglorie gery het. Dlamini-Zuma moes die hou vat.
In die proses het die AU ook ’n hele paar mites verwoes.
Die eerste is dat Afrika ’n eenheid sou wees. Die vasteland is kultureel en ideologies divers.
Arabiese Noord-Afrika is nie Afrika suid van die Sahara nie. Libië, Tunisië en Egipte het dit herbevestig.
Wes-Afrika is Afrika se nuwe ekonomiese dinamo wat munt slaan uit die tanende aantreklikheid (in veral Westerse oë) van Suider-Afrika.
Die mite dat Suid-Afrika sy demokratiese wonderwerk na die res van Afrika sou kon oorplaas, is deur hierdie land se onbeholpe buitelandse beleid ongedaan gemaak.
Daarvan getuig die Zuma-regering se rampspoedige betrokkenheid in Kenia, die Ivoorkus, Libië en potensieel vanjaar nog in Zimbabwe.
Na dese sal die Zuma-regering moet herbesin oor sy plek in Afrika se politieke landskap. Afrika aanvaar eenvoudig nie meer Suid-Afrika se “supermoondheid”-status op die vasteland nie.
Trouens, dit het ’n steen des aanstoots geword en bedreig Suid-Afrika se aansien in Afrika én die wêreld.