SA moet leer uit Mosambiek se voedselkrisis
2010-09-05 22:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Suid-Afrika het ’n belangrike les te leer uit die onluste in Mosambiek waar geweld uitgebreek het weens ’n styging in die broodprys.
Dis ’n toenemende verskynsel in Afrika dat onluste voorkom weens ’n kosskaarste of hoë voedselpryse.
Daarom moet Suid-Afrika se kommersiële boere gelos word om te doen wat hulle kan: om voedsel vir die land te produseer.
Die onluste in Mosambiek het gelei tot die destabilisering van die hele Maputo-korridor - van Rustenburg tot in die Maputo-hawe.
Dit het ook ’n impak op Suid-Afrika, wat van die hawe gebruik maak.
Geweld het uitgebreek weens die styging van die broodprys in Mosambiek met 30%.
Dit was die gevolg van die styging van die koring-invoerprys uit Rusland weens ’n droogte.
Dit dui nie net op die impak wat die globale ekonomie op Afrika het nie, maar nader tuis is dit ’n duidelike illustrasie van die onstabiliteit van Suid-Afrika se buurlande.
Dit plaas ook weer die vergrootglas op die gevare wat skuil in ’n groot gaping tussen ryk en arm.
Dit is arm mense wat Mosambiek verlede week tot stilstand gedwing het.
Mosambiek, een van die armste lande in Afrika, slaag deesdae daarin om Westerse beleggers te lok.
’n Kontrak is byvoorbeeld onlangs in die land gesluit vir die oprigting van ’n hidrokrag-aanleg van $1,6 miljard.
Groot geld word dus ingepomp in infrastruktuur in die land, wat steeds herstel ná 16 jaar se burgeroorlog wat in 1992 ten einde geloop het.
Brood is Mosambiekers se stapelvoedsel. In ’n land waar 70% van die inwoners onder die broodlyn leef, gaan die oproer egter oor meer as die prysstyging van kos.
Dit is ook die gevolg van ’n toenemende argwaan jeens die spandabele leefstyl van ’n elitistiese groepie in die land en ’n skynbaar al hoe groter gaping tussen ryk en arm.
Nes in Mosambiek is die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika van die grootste ter wêreld.
Dit moet politici, ekonome én gewone mense in Suid-Afrika bekommer.
Die gaping moet vernou word.