Simply Slim is toe eindelik die verloorder
2010-02-07 20:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Medisynebeheerraad (MBR) het reg opgetree met sy beslissing om Simply Slim se produkte aan die mark te onttrek.
Die feit is dat Simply Slim se tablette wel die middel sibutramien bevat terwyl dit voorgehou is as ’n middel wat uit “100% kruie” bestaan.
Sibutramien veroorsaak aptytonderdrukking, verhoogde bewustheid, hartkloppings, ’n droë mond en slaaploosheid.
Dit is simptome wat ’n mens allermins verbind met ’n produk wat in sy bemarkingsmateriaal beloof om van gebruikers daarvan ’n “gesonder, gelukkiger jy” te maak.
Dit is verkeerd om ’n “wondermiddel” aan die publiek voor te hou met die belofte dat dit kitsgewigsverlies gaan meebring terwyl dit eintlik skadelik is vir mense se gesondheid. Ongelukkig is Simply Slim vir lank toegelaat om dit te doen weens die swak regulatoriese raamwerk wat bestaan vir komplementêre medisyne. Daar is nie streng beheer oor dié soort middels nie en Simply Slim het dit uitgebuit.
Simply Slim het lede van die publiek se desperate (en soms behepte) behoefte aan gewigsverlies ook uitgebuit en gehoop mense se emosionaliteit oor vet sal swaarder weeg as enige rasionele stem.
Toe Beeld vrae begin stel het oor die produk, het Simply Slim teruggekap met ’n venynige veldtog van verdagmakery en wanvoorstellings in ’n poging om Beeld en sy mediese verslaggewer te diskrediteer.
Dit het Beeld nie afgeskrik nie en die koerant het voortgegaan om die feite te publiseer.
Inspekteurs van die MBR moes onder moeilike omstandighede, wat ’n hoë werklading en min personeel insluit, werk om die produk se ware identiteit te ontmasker. Dapper dokters was ook bereid om hulle uit te laat oor hierdie soort produk en die newe-effekte daarvan. Vetsug is ’n mediese toestand wat liefs deur gekwalifiseerde dokters behandel moet word.
Die resultaat is dat Simply Slim nou ’n verbode middel is. Simply Slim, wat aan gebruikers beloof het “jy het niks om te verloor behalwe gewig nie” is aan die einde van die dag die verloorder.
- Beeld