'n Woord onderweg
2012-01-27 21:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Fokus vanjaar op onderwys
Maak jy twee kolomme in ’n lysie – een met sake waaraan jy niks kan doen nie en een met sake waar-aan jy dalk wel iets kan doen, is die eerste kolom langer.
Dis egter verbasend hoeveel van die “doensake” in die tweede kolom die “buite beheer”-bekommernisse in die eerste kolom kan beïnvloed.
Die gehalte van ons land se onderwys is die een krisis waaraan ons as indivi-due en gemeentes veel kan doen.
Trouens, ’n ingryp in onderwys is die sleutel na ons toekoms.
Op ekonomiese gebied beïnvloed onderwys ons kreatiwiteit, produktiwiteit en die omvang van werkloosheid.
Op morele gebied is onderwys mede-bepalend of korrupsie en geweldmisdaad gaan afneem en of respek vir mekaar en natuurbewaring sal toeneem.
Ons weet baie oor die stand van ons onderwys, die belang van moedertaal- onderrig, die sukses van ou model?C-skole en die deurslag wat goeie hoofde gee.
Denkers soos Jonathan Jansen help ons om die regering se foefies te ont-masker en vergelykende studies waarsku ons oor hoe swak ons mense se syfer- en lettervaardigheid is.
Ons het genoeg inligting, maar te min moed om mede-verantwoordelikheid te neem.
Om môre vir onderwys te bid, soos Gauteng se provinsiale regering vra, is goed, maar nie genoeg nie.
Die ou kerklike spreuk geld steeds: Ora et labora: Bid én Werk!
Die regering het naas gebede ons op-bouende, maar kritiese bydraes nodig.
Gemeentes en skole behoort individuele onderwysers en sukkel-skole te help, kerksale beskikbaar te stel, onderwysers uit die verskillende wêrelde van ons land in ’n atmosfeer van aanvaarding en deer-nis byeen te bring, organisasies soos Studietrust te ondersteun of na te doen en onderwysers weer in ons huise en gemeentes as geroepenes van God te eerbiedig.
Onderwys moet vanjaar boaan wees op ons doenlysie.
Uit die Woord: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.” – Efesiërs 5:16.