Doen die Soweto-j(d)ive
2010-02-02 11:49
Om by jou volle verstand te wees en jou voet oor ’n afgrond te sit, is onsinnig. MARZAHN BOTHA het darem ’n rek om haar voet gehad toe sy van die Orlando Towers in Soweto ’n reksprong gedoen het.
Om aan genade te hang, sit nie ?in almal se broek nie.
?Hierdie “genade” is slegs ’n rek om jou voet wat jou ná 64 m se val van die Orlando Towers terugruk sowat 36 m voordat jy die grond sou tref. Net om jou weer te laat val. En weer. Weer. Weer.
Totdat jy kop onderstebo daar hang en jou kennismaking met die grond is uiteindelik sag en pynloos.
Maar jy bewe nog.
En dan moet jy ’n bier drink, net om jouself op die skouer te klop.
En skielik kry jy moed – om alles weer van vooraf te doen.
Die reksprong by die Orlando Towers, wat vroeër die grootste kragsentrale in die Suidelike Halfrond was, is deesdae ’n gewilde toeristebestemming. Aksiebelaaide aktiwiteite soos die power swing , internal swing en rap jumping kan reeds sedert 2007 daar gedoen word. Maar Bob Woods, baasbrein agter die Orlando Towers-aktiwiteite, was verlede September die eerste persoon wat daar ’n reksprong gedoen het.
Volgens Nico Myburg, reksprongkonsultant, gaan die suspended catch air device (Scad) waarin jy sonder toue in ’n vangnet spring, van Maart/April af beskikbaar wees.
Klink of jy heel dapper moet wees, want net om met die hysbak te ry, verg rou guts.
Dis juis tydens die hysbak-affêre waar elkeen begin wonder hoekom hulle daar is. Nadat die personeellede jou vasgegespe het in ’n harnas om jou lyf en bene is dit tyd om saam met ’n stuk of agt van die outjies in rooi in die traliekas te klim.
Jy weet hulle lag vir jou, en jy lag saam uit pure benoudheid. Hoe verder die hysbak die lug in opskiet hoe kleiner raak die stad. Dis hierdie plek van glas en beton, nywerhede, bome, parke, mynhope en mense met ’n hart van goud wat hom so diep onder my vel ingewriemel het.
Alles is vergete wanneer jy bo is.
Dis net jy en die bonsende musiek.
Dan konsentreer jy op die rek wat aan jou voete vasgemaak word en wat die instrukteurs sê.
Nadat die personeellede die nodige voorbereidings gedoen het, word jy op die hangbrug toegelaat wat tussen die twee graffiti-geverfde torings gespan is.
Tot op die platform.
’n?Veiligheidsoorsig word vir oulaas gedoen en al die vasmaakpunte nagegaan. Moenie bekommerd wees nie, die noodtoerusting is ook gereed en kan ’n gewig van tot 2,2?t hanteer.
Jou voete skuifel nader aan die platform se rand en die “5, 4, 3, 2 ,1!” raak te lank. Jy aarsel, gryp die personeellede se T-hemde vas.
Dan gebruik Myburg harde woorde om jou so vinnig moontlik oor die afgrond te kry – sy taktiek natuurlik. “Moenie met my raas nie,” is al wat ek kan uitkry voordat ek weer soos ’n renduif die platform moes aandurf. Toe val hierdie renduif eerder, maar dit lyk of ek met my grypende hande teen iets wil uitklim. Totdat jy bons, bons, bons en binne ’n kort tyd genadiglik op jou rug op moederaarde lê.
Ek stem saam met Myburg dat hierdie vir sommige ’n spirituele ervaring kan wees. Diegene wat hoogtevrees het, doen dit om die vrees te oorkom; ander, wat voel hul lewe het ’n hupstoot nodig – jy hoef nie te droom jy val nie. Myburg noem dat die personeellede by Orlando Towers gereed is vir die toeriste tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Sodra die Scad in werking is, sal daar ook ’n kuierplek wees waar adrenalienvrate vleis kan braai, ’n bier kan drink en in ongeloof na hulself op die groot skerms kan loer.
Totdat die malligheid jou weer oorval.