Kyk hoe lekker spring ’n walvis by Walvisbaai
2010-02-02 11:32
Baie toeriste wat Walvisbaai in Namibië besoek, maak seker hulle gaan op ’n vaart saam met Mike Lloyd. As jy op sy dubbelromp gaan seil, is die kans goed dat jy robbe, dolfyne en dalk ’n walvis sal sien.
Mike is ’n man wat nie sonder sy kamera na die see gaan nie. Hy het al heel besonderse foto’s geneem en het vir Buite dié reeks van drie van ’n walvis gestuur.
Johan Badenhorst en sy Voetspore-span het ook lekker by Mike gekuier op hul laaste lang Afrika-toer van Casablanca na die Kaap.
Badenhorst het verlede jaar op sy webtuiste (www.voetspore.co.za) geskryf: “Mike is ’n bekwame gids wat sy werk met entoesiasme en humor aanbied. Met die catamaran vaar mens in die baai terwyl hy in Engels, Duits en Afrikaans vertel van die robbe, die meeue, die oesterplaas, die vuurtoring by Pelican Point en die Benguela-dolfyn.
“Dis alles wat ons die oggend beleef het. As mens gelukkig is, sien jy ook ’n walvis en ’n Mola Mola, maar gelukkig was ons nie. ’n Mens kan nie alles kry nie.”
Wel, nou het ons foto’s van die walvis van Walvisbaai wat die Voetspore-span ongelukkig misgeloop het.
Oor hul kuiertjie in Walvisbaai het Badenhorst bygevoeg: “Op die cat word daar ook drankies en eetgoed bedien. Oesters van Walvisbaai – voorberei op ’n verskeidenheid maniere. Ook calamari en ander seekos. Daarna ook broodjies met ’n verskeidenheid vleisdisse.
“Ons is bederf soos nog nooit voorheen op die reis nie. Catamaran Charters is sekerlik een van die toerismebedrywe wat ons tot dusver teëgekom het wat die beste gereël en hanteer word. Dis ’n professionele onderneming, wat mens sommer naby aan die natuur bring en op ’n vermaaklike en ontspanne wyse nog iets van Namibië vir jou leer.”
* Lees meer op die webtuiste www.namibiancharters.com.