Luilekker op ’n rivierboot
2010-01-30 06:00
Daar is min dinge so kalmerend soos die sagte gekabbel van water. Of dit nou golwe in die see of die rustige rivierwater van die Vaalrivier is waardeur die boot vaar, dit bly ’n heerlike ervaring.
Die rivierboot Da Riva, wat van die vakansieoord Broadwaters sowat 12?km buite Douglas in die Noord-Kaap vaar, bied aan besoekers die geleentheid om skemervaarte te onderneem, partytjies op die rivier te hou of 50?km met die rivier op te vaar en ’n nag op die rivier deur te bring.
Die oornagvaart is ’n heerlike reis met genoeg tyd vir kuier, swem en braai.
Die boot bied slaapplek vir tien, ’n volledig toegeruste kombuis en braaigeriewe.
’n Skipper sien toe dat die boot stadig die rivier op vaar en die volgende dag terugvaar.
’n Groot binneband word agter die boot gesleep vir almal wat lus het vir pret op die water. En met die warm Noord-Kaapse son wat somermaande neerbrand, is daar geen beter plek as in die koel rivierwater agter die boot nie.
Die rivierboot bestaan uit twee kajuite – een met ’n dubbelbed en een met twee enkelbeddens – en ses bunkerbeddens in die woonkajuit, wat terselfdertyd as kuierplek dien.
Langs die rivier is hier en daar ’n rivierhuis of ’n private kuierplek, en besoekers en inwoners beoefen watersport op die rivier hier. Meestal is dit egter net voëlvriende wat tussen die riete fladder en die geroep van ’n visarend wat soms opklink.
Laatmiddag meer die skipper die boot vir die nag vas. Dan kan ’n mens die sonsondergang geniet en laatnag die sterreprag onder die wye hemel van die Noord-Kaap geniet.
Dit is ’n heerlike uitstappie, veral vir ’n warm naweek in die somer – lekker vir ontspan én pret.