Van Namibië se stilte na Indië se kontraste
2010-01-30 06:00
Die akteurspaar Anel en James Alexander reis graag. Hul mees onlangse besoeke was aan Namibië en Indië.
Anel het bekendheid verwerf in die sepies 7de Laan en Binnelanders, en as die hoëklas-prostituut Monique in die rolprent Discreet. James speel dr. Rico Maartens in Binnelanders, en het Discreet help skryf en self daarin gespeel.
Die Alexanders tref ’n onderskeid tussen die reisiger en die vakansieganger. “Om te reis is nie om te rus nie,” sê Anel. “Ek en James is great reis-buddies en maak altyd ’n avontuur van ons reise.”
Middel verlede jaar het die egpaar die “rondtes” in Namibië gaan doen. “My oupa en ouma het mekaar in (die destydse) Suidwes ontmoet en my ma is daar gebore. ’n Groot deel van hul families boer nog met skape en wild in by Aranos en Mariental.
“Van kleins af hoor ek al stories oor al die familie en plase en karakters van daar, maar ek was as baba laas in daai dele van Namibië. En kan daai mense kuier! En eet!”
’n Neef van Anel het vroeër in Nieu-Delhi gebly en hulle Indië toe gelok. Die Taj Mahal in Agra en die Ellora-grotte naby Aurangubad het haar hart gesteel, maar die Indiese werklikheid het haar geruk.
“Ek het al baie gereis in my lewe, en ek kom uit Afrika, for goodness sake! Ek ken townships en taxi’s en arm mense. Maar hierdie is op ’n ander skaal.
“Indië is een van die digs bevolkte lande ter wêreld en ek dink Namibië het die tweede kleinste bevolking. Indië is oorweldigend op alle vlakke van ’n mens se sintuie, en ’n land van uiterstes. ’n Mens weet nie waar om al die reuke en klanke en goed wat ’n mens sien te file nie.
“’n Mens sien die mooiste mooi, die armste arm en die vuilste vuil alles in een kyk. ’n Mens sal uit die mooiste paleis stap wat jy tot dusver in jou lewe gesien het, en dan lê iemand langs die voordeur in ’n sloot sonder ’n arm en ’n been.
“Namibië is weer oorweldigend omdat daar so baie stil en niks is nie.
“Dit doen iets vir ’n mens se siel om stil te raak en naby die natuur te kom.”

Indiese sjiek. Anel (naaslinks agter) en haar suster, Marilet Klopper (regs agter).

Anel en James op ‘n duin in die Namib-woestyn.

Uitgelate in Sossusvlei in Namibië.