Veldkos: Ingelegde vis vir die Paasnaweek
2010-02-02 11:32
Die nuwe jaar het vir my goed begin. Vroegoggend het ek digby Malgas reeds ’n kabeljou van ’n goeie grootte uit die waters van die Breërivier getrek.
Ná die verwoestende vloed van 2008 was die rivier se water heeltemal te vars en modderig en het die visse see se kant toe getrek.
Maar dit blyk dat die visse weer terug is en ons het van Kersdag tot in die Nuwejaar daagliks maklik ons kwota vis gevang.
Maar ’n mens kan ook net soveel gebraaide vis eet en dan raak dit effe afgesaag. My kop het oortyd begin werk om met allerhande ander visgeregte vorendag te kom.
Eerste op die spyskaart was viskoekies, want ek weet veral die kinders is gaande hieroor.
Ek braai van die kleiner visse oor die kole, maar hulle kan ook in foelie toegedraai word en bo-op die rooster of in die oond ’n halfuur lank gaar gestoom word. Terselfdertyd word ’n paar aartappels gekook vir kapokaartappels.
Nadat die vis ’n bietjie afgekoel het, word dit gevlok. Vir ongeveer twee koppies vis gaan jy ’n koppie kapokaartappels nodig hê.
Meng nou die vis en aartappels met ’n groot eier. Rasper een middelslag-ui hierby saam met ’n handvol fyngekapte vars pietersielie, sout en peper na smaak en die sap van ’n suurlemoen.
Vir ’n meer volwasse aanslag kan fyngekapte rissie bygevoeg word en die pietersielie kan met vars koljanderblare vervang word.
Maak dan balletjies so groot soos gholfballe en druk dit effens plat in die palm van jou hand. Druk elke koekie aan albei kante in meel.
Laat hulle ten minste ’n halfuur rus en braai dan in ’n vlak pan in olie tot goudbruin. Met ’n groen slaaitjie is dit ’n heerlike somermaaltyd.
Met die huis toe kom het ek die groot visse gevat, en nou is dit net die regte tyd om kerrievis te maak, want Paastyd is mos om die draai.
Hiervoor is vis met ’n stewige vlees soos geelstert of snoek nodig, en die groot kabeljoue wat ons gevang het, is ook nommerpas.
Die 5 kg-vis is in filette gesny. Sny eenvoudig met ’n skerp mes teen die ruggraat al langs die grate af. As daar hier en daar nog grate is, trek dit met ’n skerpneustang uit.
Sny die vis dan in porsies op. Onthou net, as jy die vis in flesse gaan inmaak, moet hulle deur die opening van die fles kan pas. Maar as jy die vis binne twee weke gaan gebruik, kan hulle groter gesny en in ’n plastiekbak in die yskas bewaar word.
Besprinkel die visporsies met sout en witpeper en laat staan totdat die pekelsous reg is.
Vir die pekelsous kook jy eenvoudig ’n halfuur lank die volgende saam: vier groot uie wat in ringe gesny is, ’n koppie elk suiker en appelkooskonfyt, vier eetlepels kerriepoeier (warm of matig), ’n eetlepel borrie, vyf koppies bruinasyn, ’n koppie water, ’n handvol suurlemoenblare, drie eetlepels geskroeide koljander, vyf heel naeltjies en peperkorrels.
Vir nog ’n bietjie brand kan twee rooi rissies bykom.
Meng ná ’n halfuur van saggies prut twee eetlepels Maizena by wat in ’n bietjie water opgelos is, en roer dit by die pekelsous. Hou die pekelsous steeds warm terwyl die vis gebraai word.
Braai die vis in olie tot net gaar.
Steriliseer jou flesse goed. Ek was dit in baie warm water en plaas dit dan 15 minute lank in ’n warm oond.
Skep dan ’n bietjie pekelsous, uie inkluis, onder in die fles. Pak ’n laag vis, dan nog sous, ensovoorts. Die bokant van die fles moet byna tot oorlopens toe vol sous wees. Dan word die fles styf toegedraai. Dop hom onderstebo en laat hom so staan totdat dit afgekoel het.
Die vis moet ten minste vier dae staan voordat dit geëet word. Ingemaak kan dit tot ses maande hou, dus kan dit nou al gemaak word vir die Paastyd. Dit raak net lekkerder met die verloop van tyd.
Ek moet net byvoeg, as jy vis braai, volg die raad van legendariese Wellingtonse visserman en skoenmaker Arnold Slabber.
Besprinkel jou oopgevlekte vis goed met growwe sout en laat staan vir ’n halfuur. Was dan die sout af, smeer met mayonnaise, niks anders nie, en braai hom oor warm kole.
En om jou vis mee af te sluk, gaan kry gerus vir jou ’n paar bottels Danie de Wet Limestone Hill Chardonnay. Dit is ongehout, heerlik verfrissend en baie drinkbaar.
Geniet dit!