Om die wêreld stuk-stuk te eet
2010-03-18 23:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dit was ’n plesier om die man te sien eet, vertel sy en rol die een punt van haar voorskoot tussen haar vingers. Hy’t omtrent elke dag ’n draai gemaak by die restaurant en sy onthou die eerste dag wat hy daar was nog goed.
Hy’t nie soos ander klante sommer so weggesluk aan die kos wat sy bedien nie. Wanneer sy ’n bord voor hom inskuif, het hy die koerant versigtig opgevou en eenkant neergesit, die vurk en mes as't ware geweeg in sy hande, en dan – oë half-toe – gepróé. Soms, sê sy terwyl sy effentjies sug, kon sy nie anders as om iewers om ’n hoekie te staan en net te kyk hoe hy die kos geniet nie.
Soggens was dit spek en eiers. Die eiergeel moes sag wees, die spek nie te bros nie. Mettertyd het sy so ’n ietsie ekstra saam bedien: Miskien vars, groen aspersies wat nooit te lank of te kort in die kokende water gedompel is nie, ander kere skywe sonvars mango, op ’n slag selfs varsgeplukte aarbeie met so ’n tikkie swartpeper daaroor.
Later het hy in die middaguur ook by die tafel in die hoek kom inskuif. Aan die begin het hy kwalik ’n woord gerep, maar as sy reg onthou, was dit die dag dat sy haar ouma se ertjiesop opgediep en met sorg berei het toe hy die eerste keer aan?’t gesels geraak het.
“Nie op ’n familiêre manier nie, jy weet,” verduidelik sy en vee oor haar hare sodat ’n meelstreep soos ’n flerts maanlig agterbly, “net gemaklik,
alledaags.”
Hy’t vertel hoe koud dit in Amsterdam kan word, hoe warm in Istanbul. Hoe besig Athene, en hoe verskriklik stil Bregenz snags is daar aan Oostenryk se soom teen die Bodensee.
Die dag toe sy die lamsribbetjie, wat naglank in ’n sagte knoffelsousie gemarineer is, oor ’n oop vuur braai sodat dit gaar kan word deur die beenkant, vertel hy haar van verskietende sterre in die hemel bo Cradock en ’n sonsverduistering wat hy naby Lusaka loop gadeslaan het.
Haar resep vir hoenderbobotie het hy kort daarna uit haar probeer kry met verhale van vae tromspel tydens ’n oornag in Francistown, en hoe vreemd dit is om in Suriname kenmerkend Suid-Amerikaanse hitsigheid met ’n Nederlandse tongval te beleef.
Nagte lank, alleen in die restaurantkombuis wanneer al die omliggende geboue se ligte al afgeskakel is en g’n mens meer ongeduldig op ’n oop parkeerplek in die besige straat wag nie, het sy nuwe resepte prakseer om gestalte te gee aan al die plekke waarheen hy al gereis het: Kekerertjies en brandrissie vir Marokko, spätzle vir die Swartwoud, bredies vir Roemenië.
Langs die lyntjiesboek waarin sy haar probeerslae se geheime daardie tyd opgeskryf het, was ’n wêreldatlas oopgeslaan sodat sy nou en dan haar vingers kon laat dwaal oor die berge en mere en stede op vastelande waar sy nog nooit was nie. Op Denemarke het ’n stukkie brosdeeg bly klou aan Jutland se kus, in die oseaan tussen Australië en Nieu-Seeland was ’n blerts macadamia-olie, en Mexiko sou later deurloop onder ’n leksel atjar wat van die lepel gegly het.
Ek wag, hou dop hoe sy haar voorskoot platstryk oor haar heupe, vroetel met die spenssleutel wat sy aan ’n kettinkie aan die voorskoot gespeld hou.
Die laaste keer dat sy hom bedien het, was met ’n oondgebakte camembert toegedraai in ’n bottersagte skilferkors en bedruip met soet bessiesous.
Dis nou al maande gelede. Hy was nog nie weer by die tafel in die hoek nie. Miskien is hy weer aan?’t reise, wie weet of hy in ’n ongeluk was?
Toe haal sy ’n koevert uit haar voorskoot se sak, stryk dit plat op die tafel asof sy deeg uitrol, en slaan dit oop sodat ek kan lees: Vlug SA903 van Johannesburg na Marrakesj vertrek oor ’n week.
“Ek weet nie eens wat sy naam is nie, maar as jy hom ooit weer hier raakloop, sê tog dankie vir die hongerte vir die wêreld waarmee hy my gelaat het.”