Om op te kyk en in te neem
2010-09-03 00:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Annemarie van der Walt
Een oomblik knoop ons nog jasse toe tot onder die kinnebak, die volgende oomblik moet ’n mens selfs die ligste aantrekding laat waai in die hittige aankondiging van die nuwe seisoen.
En my kop is dié keer dalk reg vir die ingehoue beloftes wat elke lente meebring, maar helaas nie my lyf nie.
Dit gaan nie oor die winterweerbaarheid om my middellyn nie, ook nie oor growwe hakskene (dit hét ’n mens nou van gedurig se vasskop ... ) of my wapperende wit bo-arms nie. Dis my bloeddruk wat nie wil stabiliseer nie.
Kry ek ná maande eindelik al die dokumentasie gereed om al langs amptelike weë my geboortevan terug te neem, is dit vanselfsprekend die dooiemansdeur van binnelandse sake weens stakings wat die kwik in my kop laat styg.
En dit help allermins daar is ’n 16-jarige wat in jou nek blaas vir haar eerste burokratiese ervaring om ’n eie identiteitsdokument te besit.
As daardie lang amptenaar wat ’n maand of drie gelede so doeltreffend die paspoorte binne twee weke in my hande laat beland het maar kon weet watter plofbare hormonale kombinasie op die sypaadjie aan’t stoom was, het hy summier van alle ander intimidasie vergeet.
Diep asemhaal en my bloeddruk daal mettertyd tot ’n telling wat nie soos sprinkane in my ore kier-kierrr nie.
Op pad huis toe is ’n handvol werkers wat ek iedereen ken op die gewone plek langs die roete. Ek’s niks lus vir geselskap nie, maar hoe kan ’n mens nou verby ry en die dorp is nog 8 km ver? En soos ons ry, lag en gesels hulle bulderend, vier groot manne wat die 1,5 liter-enjin van die motor die steilte laat uitstotter, en ek raak sissend vies vir die verlies aan my vrede.
Met die aflaaislag van die vrolike spul word vyf groot en ryp avokado’s in my hande gestop. “Omdat jy ons bene spaar.” En ek kry skaam vir my selfsugtige self, bloedrooiskaam.
Terug by die huis het die wilde perde die soveelste keer ’n ketting in sy maai gebeur om in die tuin te kom en my grasperk te steel. Asof die miere en molle en die een of ander onnoembare fungus nie al almal hul kleim kom afsteek het nie.
My moedelose hartklop is in pas met die perdepote toe ek al om die huis aanjaag aan die halsstarrige diere. Maar ook net tot die nuutste vulletjie petieterig die merrie agterna wankel.
Wat is ’n grasperk tog meer werd as ’n klam perdeneusie teen jou skouer?
Al genade is om ’n mens se frustrasie teen die berg uit te haal. Lang treë, sodat jou spiere begin brand; stewige pas oor en deur die rotse. Oë op die grond om te sien waar in die selfopgelegde haas getrap moet word.
Dis die kleinste geel trompetblommetjie wat my in my spore laat vassteek. Ek kyk op en sien ’n plaat geel om my, kompleet asof die son self tot bot kom. En afgeëts teen die blou lentehemel is die twee klipspringers wat ek in al die jare slegs drie keer al gesien het.
Ek sak op my hurke, skuif later af tot op my boude met my rug teen ’n klip. My asem jaag al hoe minder. Ek druk my vingers in die grond en ruik die aarde. Naby, net te ver om by te kom, lê ’n klompie ystervarkpenne soos ’n ruiker. Die klipspringers hou my met ’n amperse beterweterigheid van hul hoogte dop.
Stadig maak ek my stapskoene los om my voete ook in die grond te kan druk, gebarste hakskene of te not. Die son steek teen my spierwit bo-arms, die denim knyp my wintermiddel.
Maar ek vóél my bloed in my are. Sommer net so, ongevraagd, onwillekeurig. En ek leer die les vir die soveelste keer: Dit help nie om voort te stoom, oë op die voete en net die volgende tree nie.
Die geheim lê daarin om op te kyk, alles rondom in te neem. Soms is ’n oomblik genoeg om lyf en kop bymekaar te kry, soos dit hoort.
Om bloed se suising in ’n singery te verander.
Dit ís immers ’n nuwe seisoen.