’n Wenslys van klanke wat op nuwe ore val
2012-02-01 22:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Annemarie van der Walt
’n Deur wat klap.
’n Doodgewone geluid wat die meeste van ons nie eens sal laat omkyk nie.
Maar wát ’n geluid moes dit nie gewees het nie vir die kleine Cailyn Jacobs kort nadat haar gehoortoestel geaktiveer is ná ’n koglea-inplanting verlede jaar.
Die verwondering op haar gesiggie laat ’n mens se hart effe ineenkrimp en heimlik is die wens sy kon iets soos die roep van ’n swartkopwielewaal of ’n rooikophoutkapper as haar maagdelike klank van dié wêreld hoor.
Ek wonder hoe haar ouers se stemme vir haar klink, watter woorde – hoe onverstaanbaar nog vir haar – eerste aan haar gesê is.
Watter ongelooflike reis lê nou voor dié gesin.
’n Wenslys van dinge om te hoor word opgestel vir die klein meisiekind: water kabbelend oor rivierklippe; die gerommel uit ’n olifant se maag; dawerende perdehoewe wat jy eers voel op die krop van jou maag voordat jy dit hoor; ritselende blare in die herfs; bye wat zoem.
Ook al die verskillende maniere waarop mense lag: die skater, die giggel, die uitasem ge-ge-ge, die geproes.
Mag sy egter die skril en skellerige lagte nog lank gespaar bly. So ook sirenes en huisalarms en toeters en klingelende kasregisters.
Daar gaan ’n eerste keer wees dat sy ’n vliegtuig deur die lug hoor ruis, ’n bees wat bulk, ’n kruiwa se tjierie-tjierie.
En mettertyd sal sy leer hoe langsaam en uitgerek alles begin klink wanneer dit skemer word.
Watter musiek sal ’n mens haar toewens?
Vrolike rympies deur ’n koor kinderstemme, ’n dwarsfluit-solo wanneer die vroegoggendmis padgee voor die koms van die dag, miskien ’n marimba wat klink soos die kleur van die aarde?
Ek sou wat wou gee om naby te wou wees wanneer Cailyn vir die eerste keer luister na Pretty Yende, ons jong operaster wat op ’n keer die beter eienskappe van ons nasie so onder woorde gebring het: “As ons huil, sing ons. As ons lag, sing ons. As ons hartseer is, sing ons. As ons verloor, sing ons. As ons wen, sing ons.”
Of miskien kan dit Bach se toccata en fuga in D mineur wees, terwyl Marlene van Niekerk se gedig oor dié stuk musiek byderhand is: “ ... dié grootmoedigheid het God beloon / deur sewe orrelpype / soos offerkerse op die see te giet / die môrester het Hy in sy kop laat val / dit daar laat dreun, dit vir die grap / in duisend kontrapunte / uitmekaar laat spat ... ”
Hierdie ondermaanse oor-vol met klanke moet sekerlik liefs geleidelik bekend gestel word aan iemand wat die groot stilte agterlaat.
Lettergreep vir lettergreep sal sy dít leer wat soveel horendes soms naarstig hul ore teen sluit: Woorde van teerheid, maar ook ongeduld; hulpkrete en verwyt; eensaamheid en woede.
Mag haar eerste woorde sagkens gesê word en mag sy leer hoewel die lewe uitgespel word deur ’n skraal alfabet, is dit een wat elkeen telkemale opnuut moet leer klank.
Ons horende dowes by uitstek.