Wat maak ons met waardevolle gemors?
2010-03-21 22:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Mens moet darem bietjie simpatie hê met onse president wat sommer so skielik sy bates en laste moes verklaar.
Ons weet Malenema is vir hom ’n las, maar is drie vrouens en 22 kinders ’n bate of ’n las?
Die blou pajamas uit Italië is seker ’n bate, maar wat van die ou skelmpie? Sjoe, moeilike enetjie, my Kroon!
My ou moeder, ouma Tinkie, moes nou ná meer as 20 jaar in die Mooigeleë-aftreeoord aanbeweeg na ’n nuwe blyplek en ek is diep dankbaar dat ek nie vir die parlement haar bates en laste hoef op te teken nie.
Op amper 93 was dit maar net tyd, al was sy “hoofmeisie” daar, maar toe moet ons weer saam met haar deur daai pynlike oefening gaan van minder maak vir nog ’n kleiner plekkie.
En toe onthou ek hoe my vriend Piet ná sy ma se dood daar voor die vertoonkassie met al die mooi goetertjies gestaan het en toe hy dink niemand hoor hom nie, moedeloos vir sy ou moeder daar in ’n beter plek vra:
“Ma, nou wat op aarde moet ek met al hierdie waardevolle gemors van Ma maak?” Net so voel ek.
Dis kaste vol gehekelde doilies en tafeldoeke, oorgetrekte hangers en skoenbokse vol vergeelde briefies, kaartjies en foto’tjies.
Wanneer het ek daai diep goed uitgedink wat ek vir my ma van die grens af geskryf het? En met Die naaimasjien, Sandra Prinsloo se wonderlike stuk, nog vars in die geheue kyk ek met ander oë na ouma se masjien en na die rye rokke, rompe en baadjies wat deur die oog van daai naald is.
Elkeen met ’n storie van ’n polisiebal, ’n teedrinkery op ’n Saterdagoggend in Garlicks ná ’n tremtrippie van Vrededorp af, ’n doop, ’n kind se troue of net ’n huisdra-pakgeerok.
Bokse vol breinaalde, lap, knope, gespes en nog meer bokse vol patrone wat vir vandag se meisies so Grieks sal wees soos Grieks 3.
Om van die resepteboeke nie te praat nie! Van Eet gesond, bly gesond en Kos-kenades tot by Verrig wonders met piesangs.
En tussen al daai berge goed kry ek ’n Huisgenoot van 7 Maart 1969.
Die jare rol soos ’n Frederik Burgers-fliek in stadige aksie voor my verby saam met Adoons-hulle, Veka-pakke, Mobil-gas, Lyceum-kollege (my pa het daai plek Luiseun-kollege genoem), ’n kortverhaal, “Helde wat val” deur wyle Pieter Pieterse (nee, nie oor die politiek nie) , Kolynos-tandepasta, ’n Toyota Corona vir R1 940 en, les bes, ’n artikel oor die koste van ’n troue:“Wat my liewe dogter se troue my kos”.
Troukaartjies wat tot R8 vir 100 kan kos, die foto’s wat jou R100 uit die sak kan jaag, die troukoek ’n volle R35 en “die strooimeisie wat self voor die naaimasjien sal moet inskuif as sy wil hê haar rok en toebehore moet minder as R40 kos”.
Toe daai pa ná die tyd sy somme maak, werk hy uit dat die hele “mak, ordentlike troue” vir 250 gaste hom R1 409 armer gelos het!
En toe gaan sit ek daai Huisgenoot in ou Hugo se posbus, want sy dogter is laas week getroud en hy was ook in 1969 in matriek, nes ek en daai Huisgenoot.
En toemaar, Ouma, ek sal nie al jou waardevolle gemorsies weggooi nie, al dink jy ek gaan.