Buitengewone hitte vra na ’n mangoslaai
2012-02-06 22:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Cecile Cilliers
Dis warm in die Kaap. Die weerburo het ter wille van weersverkondiging sy woordeskat moes uitbrei: warm, baie warm, bloedig warm, voorspel hulle en sedert die begin van hierdie somer, moontlik te wyte aan aardverhitting, soms ook buitengewoon warm.
Die wind, wat hier in Vishoek ’n mens tot kort duskant raserny kan dryf as jy hom nie gewoond is nie, het gaan lê en dis buitengewoon warm in die Kaap.
Gans te warm om te wil kook, selfs eet. Ek maak vir my ’n vrugteslaai van die mango’s wat van die supermark af kom.
Ek koop hulle omdat hulle onweerstaanbaar mooi is – donkergroen en -rooi, heldergeel en oranje lê hulle in die vrugtebak. Glad, blink, eksoties.
Hulle word nou plaaslik gekweek, die Mangifera indica, maar hulle is nie van hier nie. Hul voorkoms en hul geur vertel dit al. Hulle is oorspronklik uit die Ooste; aan Asië, Birma en Assam in Indië is hulle inheems.
(John, verlede maand reeds 17 jaar oorlede, het altyd beweer ek het ’n “vlinder-mentaliteit” – a butterfly mind – omdat ek so maklik, en soms verwarrend, van een onderwerp na ’n volgende kan spring.
Almiskie, maar oor inheems en uitheems en ontheemde tob ek ’n geruime tyd al. Vandat daar gewag gemaak is van Afrikaans as “uitheemse” taal. Waar, wonder ek, sal ek dan tuiskom?
Die mangoboom is immergroen, kan ’n hoogte van 15-18 m bereik en word baie oud.
Lees ek die beskrywing van die blare – lank en slank, en van die klein blommetjies, effens pienk wat in bossies aan die punte van die takke gedra word, is ek in die Laeveld, op pad Wildtuin toe, en langs die pad is die boorde mango’s vol in die blom.
As kind het ek nie van mango’s gehou nie, maar ons ma was lief vir eksotiese vrugte –custard apples, persimmons en mango’s.
Ma, sê ek, dit smaak na paraffien.
Maar eet het ek nogtans geëet en daarna die groot pit se laaste vleis afgesuig tot ’n harige krimpvarkie waarop Ma ’n swart krale-oog geteken het ...
Ek kerf die vleis van drie mango’s in ’n glas-skottel, die sous loop oor my hande, en sit die skottel in die yskas om lekker koud te word.
Later sal ek jogurt en bruinsuiker daaroor skep.
Oor die wasbak suig ek die laaste vleis van die groot pitte af, soos ek as kind gedoen het. Soet, diep bevredigend, eksoties, met geen sweem van paraffien nie. Kos vir die dors.
Pitte eindelik in die asblik, loop was ek my hande en gesig in die badkamer.
In die spieël lyk ek soos graaf Dracula. Maar dis nie bloed wat van my tande afdrup nie; geel, wollerige drade sit aan my tande vas.
Dwarsdeur 7de Laan moes ek peuter en pik om van die rafelgoed ontslae te raak.
G’n wonder hulle noem die ding ’n vesel-perske nie.