Oor ’n erfenis wat ek óók met trots kan deel
2012-01-30 21:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Cecile Cilliers
Voordat dié toer so onbetaalbaar duur geword het, word ek saam met die ganse familie, eie en aangetrou, saamgenooi Robbeneiland toe.
Met Nelson Mandela konstant in die agterkop was dit vir my ’n onvergeetlike ervaring: die selle, die klipgroef, die stapel gedenkklippe wat elke jaar stadiger groei met die onvermydelike heengaan van die ou eiland-strydrosse. Alles gryp my aan die hart.
En Robert Sobukwe, kranksinnig ná jare se eensame opsluiting.
In ’n groot eet- en slaapsaal beskryf ’n oudgevangene die lewe van toe. Ons luister stip toe ’n selfoon plotseling begin lui.
Langs my beantwoord ’n jong vrou haar foontjie en begin ’n luide gesprek waardeur die gids se stem onhoorbaar word.
Toe ons opstaan om te loop, klik sy die foon toe en met ’n parmantige wip in haar stap maak sy aanspraak op haar erfenis. Trots, aanmatigend.
En ek besef met ’n bepaalde droefheid dat ek, hoe krities ook al op haar houding, nie dieselfde aanspraak het nie.
Dít was etlike jare gelede. Verlede naweek was ek vir ’n kort besoek in Johannesburg en vir die heel eerste keer maak ek kennis met Con Hill, soos dit glo bekend staan, die koppie waar die ou Fort was en die gebou van die konstitusionele hof nou is.
Ek ry soontoe saam met Corina van der Spoel, bestuurder van Die Boekehuis, daardie klein boekwinkel wat die lees-en-dink-hart van ’n stad geword het.
En wat helaas nou moet sluit. Corina gaan ’n vraggie boeke aflewer by Xarra, die gespesialiseerde boekwinkel langs die konstitusionele hof.
En omdat ek dit nie ken nie, en die hof nie in sitting is nie, glip ons – sonder gids – by die ingang in.
Die hofsaal is ’n ruim vertrek, eenvoudig, modern, funksioneel, maar met ’n warmte, ’n intimiteit.
Oor die lae reling agter die regters se halfmaanstoele hang die velle van Nguni-beeste; die wuiwende vlag teen die muur is ’n krale-skepping, die voue daarin pure oëverblindery.
Die sitplekke vir ’n kleinerige gehoor is gemaklik sonder om slaap aan te moedig. Hier, voel ek, sal ek sonder skroom my saak kon stel.
In die voorportaal, in glaskaste, staan die drie items wat die veranderde oppergesag voorstel: die groot goue staf wat vroeg in die vorige eeu as die teken van finale mag by die parlement ingedra is; die kleiner een van ná die koms van die Republiek; en die Grondwet.
Tipografies presies soos die regeringspublikasies uit die tyd van my landdros-pa, staan dit oopgeslaan daar: die handves van ons vryheid. In hierdie boek, in hierdie hof, is die hoogste outoriteit van die land gevestig, hier lê die behoud van ons nuutgebore, brose demokrasie.
My oë word nat.
Toe ons uitstap, kom daar ’n toergroep binne.
Ek hoor Duits, Frans. En kom plotseling agter dat ek met ’n wip in my stap loop, met ’n windmaker lyf wat trots aanspraak maak.