’n Sprong op die rug van gister se spook
2012-01-23 22:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Cecile Cilliers
’n Geruime tyd gelede kry ek e-pos van een van my seuns se portuurs. Hy’t in Angola diens
gedoen en is genooi om deel te word van ’n webwerf met die naam van die bataljon waaraan hy en ander behoort het: “Sodat ons met mekaar kontak kan behou,” is aan hom geskryf.
Tannie Siela, skryf hy, ek was nie lus nie. Dis ’n deel van my lewe waarvan ek liewer wil vergeet. Maar toe lees ek ’n storie wat een van die ander oudsoldate op die webwerf geplaas het en ek dink ek moet tog maar deel word van die groep, soos ek 30 jaar gelede deel was.
Daar is stories wat vertel moet word ...
En dan eindig hy: “Hoe spook dit nog als hier in ons donker onderbewussyn.”
Ek het lank getob oor die brief en oor die
letsels wat die Bosoorlog op baie van ons jong mans – seuns was hulle toe nog – gelaat het. Wonde waaroor hulle met huiwering praat.
En toe, Oukersaand, in die soel aandlug oor ’n glas wyn, vertel een van die neefs aan my ’n verhaal van haat en vrees, vergifnis en versoening.
Hy was, vertel hy, tydens die Bosoorlog in Angola, maar hy wil nie daarvan vertel nie. Ook nie van Cuito Cuanavale nie, waarvan hy deel was. Maar hy wil wel vertel van sy twee oorlogsmakkers, Johan en Lukas.
Miskien was dit gebeure op die grens wat daartoe aanleiding gegee het, hy het nie uitgelê nie, maar hulle drie het bloedmakkers, hartmakkers geword.
Elke jaar in die eerste week van Desember kom hulle in Pretoria by Johan bymekaar – hy van Kaapstad en Lukas (nou Luke) heelpad van Londen.
Tannie Siela, sê die neef, ons drie praat soms oor die Bosoorlog, maar nie noodwendig nie. Tog, twee weke gelede vertel Lukas hierdie storie:
Luke en sy vrou en hul 18-jarige seun was met vakansie in Kuba – hul eerste besoek aan die eilandrepubliek. Twee dae voordat hulle vertrek, sien Luke ’n advertensie vir ’n valskermsprong; nie alleen nie, saam met iemand. ’n Abba-sprong, glo.
Luke het baie lus en sy gesin moedig hom aan. Jy sê altyd jy sou graag ’n parabat wou gewees het, Pa, sê sy kind. Doen dit nou!
Luke skryf in, betaal die geld en hulle styg op. Oorkant hom sit ’n lang, fris Kubaan wat hom ondersoekend aankyk, dan sê-vra: South African? Army? Angola? Cuito Cuanavale?
Luke, skielik beangs, knik stom van ja.
You jump with me, sê die Kubaan. En gespe Luke aan sy lyf vas.
Vertwyfeling, vrees, ’n rasende begeerte om om te draai – en toe is hulle uit die vliegtuig uit en sweef deur die lug. Om veilig te land.
Toe omhels die groot Kubaan vir Luke: Now we are friends, sê hy.
Dankie, Neef. Dankie vir die vertel.