’n Swanevlerk bly vir die sibbe
2010-03-10 22:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op

Geschwister, dié Geschwister, maan dr. Kellermann. Want, Cecile, dit is uiteraard altyd in die meervoud, synde ’n versamelnaam vir die kinders van een ouerpaar; broers en/of susters, dus.
Dit het ek in die Duitse klas geleer; later sou siblings bykom, uit die Engels. Maar die Afrikaanse woord het ek nooit geken nie, het die gebrek daarvan in my woordeskat aangevoel en betreur, totdat Boeta my eindelik daarop gewys het: sibbe, het hy verklaar.
Met as meervoud: sibbes. Hy doen baie Afrikaanse blokkiesraaisels, het dit só leer ken.
Want die woord is nie in algemene gebruik nie. Die Nasionale Woordeboek beskryf dit inderdaad as ongewoon. En dit vind ek jammer, want die woord hoort in die taal.
Soos die Engelse sibling, lees ek in die Concise Oxford Dictionary, kom dit uit Middel-Nederlands sib(be), vanuit Oud-Hoogduits sibbi, of sippi, en (nog vroeër) uit die Goties – sibjis.
Sibbes het egter nie net ’n lang taalgeskiedenis nie, feitlik so oud soos die mens self is die begrip van broers en susters.
Net ná Adam en Eva verskyn eers Kain en dan Abel, en helaas die eerste moord – tragies, want dit is tussen broers. Vreemd genoeg is daar in die Bybel min beskrywings van broederliefde, of eerder: sibbeliefde.
Kain en Abel, Jakob en Esau, Josef en sy jaloerse broers – noem maar op. In die Bybel, synde paternalisties, word daar van die verhouding tussen susters minder vertel, maar selfs tussen Martha en Maria was daar skynbaar wrywing: “Here, sê sy moet my kom help!”
Met groot begrip vir die dikwels moeilike betrekkinge tussen sibbes het Jesus eerder die groter, allesomvattende broederliefde – sý liefde, die agape – voorgestel.
Hoewel ons steeds Aspoestertjie se twee lelike stiefsusters in gedagte moet hou, vind daar tog iets van ’n ommekeer in die sprokieskat plaas.
In die Grimm-broers se weergawe van die ou volksverhaal ondersteun Hansie en Grietjie mekaar, maak hulle saam-saam die heks van kant.
En die susters van Hans Christian Andersen se meerminnetjie pleit dat sy nie haar visstert vir mensevoete ter wille van die liefde moet verruil nie ...
Een van die mooiste Grimm-verhale vertel van die liefde van ’n jongste koningskind vir haar sewe broers.
Hulle is deur ’n jaloerse stiefma in swane verander en om hulle weer hul menslike gestalte te laat herwin, moes die sustertjie sewe jaar lank stom bly en nooit lag nie. En moes sy sewe hemde van brandnetels weef.
Die sprokie loop baie draaie, maar eindelik word die meisiekind van heksery beskuldig en gevonnis om op die brandstapel te sterf. En selfs daar bly knoop en vleg sy aan die hemde.
Net voordat die vlamme aan haar klere begin lek, verskyn die sewe swane, is die sewe jaar verstreke en kan sy die sewe hemde oor die swane se koppe gooi.
Die swane verander in haar geliefde broers en hulle kan mekaar laggend en huilend omhels. Maar die een hemp was nie heeltemal klaar nie en die jongste broer het vir die res van sy lewe een swanevlerk gehad ...
Dit is ’n gedeelde agtergrond wat sibbes aan mekaar bind. Dit kan liefde vir die woord en kennis van die Woord insluit, die saamlees van sprokies, die saamlag oor ou grappe, dinge wat hulle in vrede saam laat oud word.
En wat hulle eindelik met een swanevlerk los wanneer die hemde klaar geweef is.
Twee susters wat van bedrog aangekla was en tot tronkstraf gevonnis is, het sewe jaar lank in dieselfde sel deurgebring.
En toe hulle eindelik vry uitstap en die tronkdeur agter hulle toeklap, draai die een na die ander en sê: “Ou Suster – ek wou jou nog gesê het ...”
Nou sal ons drie wat oorbly – ek en Boeta en Polla – ook nie meer vir die vierde sibbe iets kan sê nie.