Dana Snyman

Daar sit hulle, agterop, en kyk agtertoe

2012-02-02 21:46

Dana Snyman

Oral in die land sien jy mense agterop bakkies.

Jy is op die snelweg naby die stad, dan is daar ’n ou Isuzu voor jou in die middelbaan, met drie manne agterop.

Oor een se ore is ’n Rasta-mus getrek. Die ander twee se blou oorpakke is vol verfspatsels. Dit lyk nie of hulle met mekaar gesels nie. Hulle sit met hul rûe teen die bakkie se kajuit en hulle kyk agtertoe.

Hulle gaan by ’n huis of op ’n bouperseel werk, weet jy – heel dag lank gaan hulle verf of messel of kruiwa stoot en vanmiddag gaan hulle weer in die teenoorgestelde rigting agterop hierdie selfde bakkie op hierdie selfde snelweg ry, terug township toe.

Ander kere is daar meer as drie mense agterop die bakkie. Daar is vier of agt of sommer tien en dis meestal mans. Daar kan selfs ’n leer of ’n kruiwa saam met hulle op die bak wees.

Soms moet party op die bak se rant sit, want ín die bak is nie genoeg plek om te sit nie. Hulle moet aan die bakkie vasklou en oppas hul pette waai nie van hul koppe nie.

Partykeer sien jy ’n pet op die snelweg lê. Dit lê daar in die linkerbaan op die teer en die motors ry daaroor.

Wanneer die wind waai, sal die pet ’n entjie die lug in fladder voordat ’n volgende motor kom en dit weer plat trap.

Jy sal na daardie pet kyk en weet dit het van iemand wat agterop ’n bakkie was se kop gewaai.

Dalk was dit ’n jong man uit die Oos-Kaap se pet, sal jy vir jouself sê. Dit was sy eerste dag agterop ’n bakkie saam met ander werkers en toe hy weer sien, gryp die wind die pet van sy kop af.

Dalk sou hy vergeefs die wind in aan die bestuurder geskreeu het om stil te hou, terwyl die ander werkers vir hom lag.

Op die platteland sien jy ook soms ’n pet in die pad lê. Niemand hou graag stil vir ’n dêm werker wie se dêm pet afgewaai het nie.

Dit is ’n skildery wat nog nie geskilder is nie – die een van die werker agterop die boer se bakkie.

Die werker ry dikwels saam dorp toe om die hekke op pad oop te maak. Die hele oggend sit hy in die heklose dorp agterop die bakkie terwyl die boer by die bank en die Spar en die koöperasie is.

Partykeer sal die werker afklim en dan sal daar ’n repie koerantpapier en die oranje van ’n pakkie BB-twak in sy hand wees.

Die platteland is vol desperate mense agterop desperate bakkies. Die mans het dikwels nie oorpakke aan nie. Hul hemde fladder soos verslete vlae aan hul lywe in die wind.

Soms sal daar tussen die ander agterop die bakkie ’n vrou wees, met ’n doek om die kakebeen gebind, op pad na ’n kliniek waar die seer tand seer getrek sal word.

Soms sien jy oumas agterop bakkies, soms kinders, soms ma’s met babas in die arms.

Mense agterop bakkies kyk meestal agtertoe. Hulle kyk nie na waar hulle heen gaan nie. Hulle kyk na waar hulle vandaan kom.

Hulle kyk na jou.
 

Binne Beeld

Weather
Lottery
Cpt: 12-22°C Sunny. Mild. Pta: 6-18°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 3-15°C Sunny. Quite Cool. Bloem: 2-18°C Morning clouds. Cool.
Dbn: 12-23°C Mostly sunny. Cool. PE: 11-23°C Morning clouds. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

AUDI

A4 2.0 Exec Multitronic
2005
R 165,000.00

BMW

120i (E87)
2005
R 172,900.00

TOYOTA

Corolla 140i GLE MY05
2008
R 146,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.