Ons kán die wêreld weer heel
2011-02-18 22:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Elise Tempelhoff
Soggens wanneer ek die stort se kraan oopdraai en warm (soms kokende) water spuit daaruit, voel ek so goed. Nie net omdat ’n stort verfrissend is nie, maar omdat die warmte van die water nié aan die verbranding van steenkool te danke is nie, maar aan die warm strale van die son.
Buiten dat sonkrag omgewingsvriendelik is, het dit ook ons huishouding se kragrekening met byna die helfte gesny.
Ek het vandeesweek, ná ’n besoek aan Belfast in Mpumalanga, weer soos ’n paar maande gelede die afdraaipad van die N4 af Ogies toe gevat. Langs my was daar net steenkoolmyne, kilometers ver aaneen. Ek het weer besef: Ons kan nie so aangaan nie. Ons sal dringend ander bronne van energie móét kry.
Al hierdie myne by Ogies is in die opvangsgebied van die Olifantsrivier. Ek kry feitlik elke dag oproepe en teksboodskappe van lesers wat gebuk gaan onder die juk van steenkoolmyne in Mpumalanga.
Irma van Bethal het byvoorbeeld geskryf: “Hulle is gróót en hulle verrys soos paddastoele!”
Ek het hierdie week ’n gesprek op die internet gevolg wat gehandel het oor die Verenigde Nasies (VN) se Millennium-doelwitte wat onder meer daarop gemik is om uiterste armoede, kindersterftes en epidemies soos MIV/vigs teen 2015 te halveer of uit te wis. ’n Wetenskaplike van Sri Lanka het die gesprek aan die gang gesit deur ’n beroep te doen op die 192 lidlande van die VN om nuwe doelwitte by die bestaande agt te voeg.
Prof. Mohan Munasinghe, ’n kundige op die gebied van volhoubare ontwikkeling en klimaatsverandering, vra dat die VN ook Millennium-verbruikersdoelwitte (MVD) moet saamstel.
Sy motivering is dat die rykes se verbruikerspatrone moet verander, anders sal die armes nooit aan hul ellende ontsnap nie. Die speelveld moet gelyk gemaak word en die druk op die aarde se hulpbronne moet afneem.
Hy wys daarop dat 20% van die mensdom 85% verbruik van dit wat die aarde bied.
Ene Erik het gesê MVD’s behoort die volgende in te sluit: Vetsug moet wêreldwyd teen 2020 gehalveer wees. As mense leer om hul eetgewoontes aan te pas, sal dit die druk op kosproduksie verlig. As hulle minder eet, sal die produksie van kos afneem óf dit wat oorbly kan aan die armes gegee word.
Ene CH het daarop geantwoord: Die verbruik van diereprodukte moet in die volgende nege jaar met die helfte verminder word. Hy skryf: “Die produksie van rooivleis dra by tot klimaatsverandering. Ons moet ons gebruik van eiers en melkprodukte ook met 70% verminder en terselfdertyd hoenders, varke en beeste uit fabrieke bevry. Ons moet die samelewing se koppe draai. Moenie mense wat tweedehandse klere dra vreemd aankyk of dink vegetariërs is fratse nie.”
’n Ander deelnemer sê sy het ’n beginselbesluit geneem om nóóit ’n hysbak te gebruik nie. Sy klim trappe. Dit is goeie oefening én dit bespaar krag. Én sy herwin alles: papier, plastiek en blik. Sy maak haar eie kompos en gebruik gryswater om haar tuin mee nat te lei.
Om kompos te maak en erdwurms in die grond te sien, is een van my eie vreugdes ook.
Danksy my ma het ek grootgeword met komposhope. In my huis gebruik ons ook alle gryswater (dis nou afloopwater van die stort en van die kombuis) om die tuin mee nat te lei. (Dit is natuurlik belangrik om omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels en seep te koop as jy nie wil hê jou plante moet doodgaan nie.)
In dieselfde gesprek sê ene Reina: “Almal van ons moet iets in ons lewe verander. Ons moet sorg dat ons inligting kry oor vervaardigers van ons kos en klere, van alles wat ons koop en gebruik. Ons móét weet hoe produkte geproduseer word en hoe die groot maatskappye met die omgewing omgaan. Ons kán hulle boikot. Nét ons (verbruikers) kan van die wêreld ’n beter plek maak.”