Pruike om leë busse te bedek
2012-01-23 20:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ferdi Greyling
Ons mense dink mos ons is logiese skepsels en dat ons verkies om met die waarheid te werk. Dan loop ’n mens jou nou en dan vas in iets wat duidelik nie is wat dit voorgee om te wees nie, maar ons almal maak vrolik asof dit wel is.
Soos The Rolling Stones se hare en die Johannesburgse munisipaliteit se Rea Vaya-busdiens.
Ek hou van die Stones, maak geen fout nie. Ek het selfs baie geld betaal om op Ellispark na hulle te gaan kyk.
En Keith Richards kry gereeld ’n glimlag uit my, al is hy eintlik die opsomming van waarteen ons ons kinders waarsku en al moet ons hom eintlik as ’n voorbeeld toesluit. Maar dis nie dié valsheid wat my in die Stones getref het nie.
So ’n maand gelede koop ek ’n DVD wat die fliekregisseur Martin Scorsese verlede jaar oor die Stones gemaak het, konserttoer ingesluit.
Die musiek is generies Stones en vergeetlik aangenaam op ’n ou rockliefhebber se oor. As’t ware hysermusiek vir soos ons hoër die jare in styg.
Toe sit ek en kyk na Mick Jagger, Ronnie Wood en Richards op die verhoog. Die hare waai soos hulle speel; die pikswart en donkerbruin hare. Hulle lyk soos tieners (as ’n mens die plooie miskyk).
Jagger en Richards is in 1943 gebore en Wood in 1947. Hulle was dus in 2010 onderskeidelik 67 en 62 jaar oud.
Die hare se kleure is voor die hand liggend – ek het selfs ’n webwerf gekry wat prontuit sê Jagger gebruik baie haarkleursel – aangewend deur kenners – om te lyk soos hy lyk.
Maar toe gaan lees ek op oor “male pattern baldness” op Wikipedia en daar sê dit onder Amerikaanse mans (dus dieselfde genepoel as die Stones) begin twee derdes van mans hul hare op 60 verloor.
Die vraag is dus: Watter twee (of minstens een) van Richards, Wood en Jagger is bles?
Dis waar die oëverblindery inkom. Daar staan die bejaardes en speel en hulle het heel waarskynlik pruike op, maar ons juig vir hulle asof hulle jonger as ons is!
Solank ons sulke goed doen, gaan die wêreld mos nooit regkom nie? Hierdie is nie eens ’n wit leuen nie, dis uit en uit ’n kommersiële leuen!
Dan is daar Rea Vaya. Die eerste deel van dié busdiens – min of meer van Soweto tot by Ellispark – is in Augustus 2009 al geopen. Dit was bedoel om te werk tydens 2010 se sokkertoernooi, maar ek het dit nie sien werk nie.
Ek bly net verby die Ellispark-omgewing en ry elke werkdag verby drie Rea Vaya-stasies – twee aan die Ellispark-kant en een aan die Auckland Park-kant.
Toe aangekondig is dié diens is die oplossing om Johannesburg betroubare openbare vervoer te gee, is gesê ons kan elke 20 minute ’n bus verwag. Daar is wyd gebreek en gebou met baie geld. Wel, soos dit nou lyk, kan ’n mens elke 20 dae ’n bus verwag.
Aan die Ellispark-kant sien ek seker so een keer in twee weke ’n bus of drie en hulle is leeg. Die stasies lyk mooi en die ruite word gereeld gewas, maar daar is nooit mense in nie.
Twee jaar nadat so ’n groot projek in werking getree het, kan ’n mens seker verwag dat dit moet werk?
En as ’n mens deur die stad of Hillbrow ry waar die roetes strek, is die swak beplanning dadelik sigbaar. In die stad is daar nie plek vir ’n bus en twee motors in die strate nie, maar dis nogtans ingedruk en veroorsaak opeenhopings en dat minibustaxi’s die busbane oorvat.
In Hillbrow ry ’n mens nog lekker in die motorbaan en skielik word hy die busbaan.
Is die Rea Vaya-diens die grootste stedelike versieringsprojek ter wêreld? Die mees uitgebreide kunsinstallasie? Want ’n busdiens is hy beslis nie.
En ons ry daagliks verby en voel goed oor ons nuwe stuk stedelike vervoer ...