Wat vandeesweek oor die Wetsontwerp oor Afrikatale berig is, is ’n
tipiese voorbeeld. Die wetsontwerp bepaal dat staatsdepartemente in minstens
drie tale met burgers moet kommunikeer, waarvan twee voorheen benadeelde
Afrikatale móét wees.
Geen departement gaan Engels uitskuif om Afrikaans naas
twee swart tale te gebruik nie en geen departement sal die moeite en koste
aangaan om viér tale te gebruik sodat Afrikaans ook ’n plek kan kry nie. As dié
maatreël wet word, is
Afrikaans as owerheidstaal so dood soos ’n mossie.
Burgerlike organisasies soos Solidariteit moet maar solank hul vere
begin regskud om dié maatreël met alle mag in die konstitusionele hof te
beveg.
Wat nou duidelik geword het, is dat die ANC-LP me. Thandi Sunduza
reg was toe sy verlede week gesê het Engels koloniseer Suid-Afrikaners se
gedagtes. Te veel Suid-Afrikaners van alle groepe, selfs Afrikaners, kyk neer op
hul eie kulturele erfgoed en aanbid Engels. Maar dit is ook gewoon onverstandige
beleid.
Daar is wêreldwyd vyf verskillende modelle oor hoe om met
taalverskeidenheid om te gaan.
Die eerste is welwillende verwaarlosing, wat onder meer in die ou
Sowjetunie gevolg is. Lippediens is aan minderheidstaalregte bewys, maar in die
praktyk is dié tale aan hul eie lot oorgelaat, met die gevolg dat Russies in die
praktyk bevoordeel is.
Tweedens is daar die Amerikaanse smeltkroes, waarvolgens alles in
één pot saamgegooi word om mee te ding, maar aangesien Engels die owerheids- en
handelstaal is, bevoordeel dit hom.
Die derde is die Franse model, waarvolgens die minderheidstale
aktief verdruk word ten gunste van Frans, wat as draer van die nasionale
identiteit geld. Streektale soos Occitaans en Bretons is daardeur op sterwe na
dood.
In die vierde plek is daar ’n Afrikamodel. Feitlik alle elites
in Afrika beskou hul etniese verskeidenheid as ’n bedreiging vir die nasionale
eenheid (waaraan hulle hul politieke mag en welvaart ontleen). Dus bevoordeel
hulle die gewese koloniale taal – Engels, Frans of Portugees – ten koste van die
inheemse tale. Af en toe – soos die ANC – maak hulle mooi geluide oor die
bevordering van die inheemse tale, maar in die praktyk bevoordeel hulle net die
koloniale taal.
Ten slotte is daar die Europese model, wat minderheidstale van
staatsweë erken, koester en bevorder. ’n Hele wetlike raamwerk bestaan in lande
soos Duitsland, Nederland, België, Switserland, Italië, Spanje en ander om
minderheidstale aktief te bewaar.
Die idee daaragter is dat dit nasionale eenheid juis aanhelp as jy
mense toelaat om naas jou oorkoepelende nasionale identiteit ook ’n etniese
identiteit met trots te omhels.
Dus kan jy byvoorbeeld ’n trotse Fries wees wat jou kinders binne
die grense van die provinsie Friesland in ’n Friestalige skool plaas, na Friese
TV kyk en na Friese radio luister, ’n Friese koerant lees en in Fries in die
kerk aanbid, maar daarnaas ook voluit Nederlander wees.
Die wortels van die ANC se politieke denke kan hoofsaaklik in twee
bronne gevind word: die voorbeeld van die Sow- jetunie, wat vir die ANC in
ballingskap feitlik hemel op aarde was, en Afrika. Sy taalbeleid word
waarskynlik ook deur dié twee bronne geïnspireer.
Daar kan nie fout gevind word nie met die doel wat die ANC met die
mond bely, naamlik om swart tale te bevorder. Dis uitstekend. Maar kan dit dan
slegs bereik word deur Afrikaans op te offer? Waarom móét die een ten koste van
die ander wees? Dit is ’n yslike tragedie.
- Dr. Leopold Scholtz is Media24 se
korrespondent in Europa.