Ertjies en ’n paar diamante en jy is gereed
2012-02-22 22:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Tom Dreyer
’n Paar jaar gelede kom ek af op Hints to Travellers, ’n publikasie van die Royal Geographical Society van 1878.
Dit is ’n reisgids vir voornemende ontdekkingsreisigers, onmisbaar vir enigiemand wat beoog om die wildernis van Afrika aan te durf.
Dit verskaf breedvoerige inligting oor die beste kos, medisyne en wetenskaplike toerusting vir jou ekspedisie, ook advies oor tente, hangmatte, eetgerei en teestelle.
Dit verskaf planne vir opslaanbaddens en bote en bespreek die soort fluitjies, skêre en spieëltjies wat die geskikste is vir ruilhandel in verre streke.
As jy wil weet watter sjampanje om saam te dra na die trope, is hierdie die boek vir jou.
Benewens nuttige advies bevat dit ook wenke wat vir my ietwat eksentriek voorkom. Voornemende reisigers word byvoorbeeld aangeraai om altyd ’n voorraad droë ertjies byderhand te hou – glo onmisbaar wanneer jy die behoefte het om groot rotsblokke oop te breek. Jy gooi bloot daai ertjies in die gleufies en maak dit nat en siedaar – nie eens graniet is opgewasse teen die ertjie se meedoënlose swelkrag nie.
Vir my is die buitensporigste brokkie raad egter dat die reisiger, voor sy vertrek, ’n dokter besoek en ’n klein ampulle vol diamante in sy voorarm laat inplant.
Dan is jy glo gereed vir enige gebeurlikheid: As jy oorval en van al jou toerusting beroof word, het jy nog hierdie klein skat om op terug te val.
Jy kan dit gebruik om jou vryheid terug te koop of dalk om te betaal vir veilige begeleiding na meer gasvrye streke.
Ek wonder of iemand ooit hygend onder ’n wildevy gehurk het om daardie ampulle uit te grawe – met ’n skerp klip, natuurlik, want in daardie stadium is jou Sheffield-messe immers lankal vort.
Ek hou van so ’n geheime skat, ’n laaste klein toevlug nadat alles anders misluk het en jy soos koning Lear gestroop is tot jou naakte, gevurkte self.
Ek kan die vertroosting verstaan wat so ’n verborge houertjie sou kon bied. Ons het geheime nodig, nes die legendariese grootslang van die Oranjerivier die geheimsinnige diamant op sy voorkop nodig het as bron van sy krag.
Net soos ontdekkingsreisigers se gesweet in die “donker” vasteland deels maar uiterlike manifestasies van psigiese prosesse was, dra ons elkeen steeds ’n ontembare klein wildernis in ons eie kop saam, die donker ruigtes van die gees waar mites, stories en vrese bymekaarkom.
Dit is hierdie klein skatkis wat ons voortdryf. Dit is hierdie laaste fortuin wat ons laat glo in gedaantes en ongekaarte plekke en in kranse onverniel deur ert of dinamiet.
Dit is waarom ons weet dat daar nog iewers in ’n verborge kloof waterslange swem en ’n Karoo-meermin met skubbe wat soos diamante flikker voordat sy weer wegraak in die dieper water.
-Tom Dreyer is ’n skrywer. Annemarie van der Walt skryf weer volgende week in dié ruimte.