God-loos word ons siek
2009-12-27 21:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dit was ’n rowwe jaar. Niks staan meer op dieselfde plek nie. Rolmodelle het geskuif. Joost is nie meer ’n video nie, maar ’n boek.
Maar, as jy mooi kyk, het alles dieselfde gebly.
Ons vra nou die dag ’n groep mense wat hulle dink die ergste ding is wat die afgelope tien jaar met die Christendom in Suid-Afrika gebeur het. Omtrent 80% van hulle antwoord dat God uit die samelewing verdryf word.
God moet waai uit skole, word verdryf uit wetgewers en mag nie ’n rol speel in howe nie. “Hulle” wil God oral uithaal en wie gaan ons dan beskerm in hierdie tye van misdaad en geweld?
Op ’n vraag wie die “hulle” is, het die groep verskillend gewonder. Is dit die regering? Is dit die gevolg van ’n sekulêre grondwet? Sommige het gevoel dis sekere liberale teoloë wat God selfs uit Jesus wil haal.
In die afgelope tien jaar was gelowiges se reaksies teen die “verdrywing van God” uit die samelewing opvallend.
Een reaksie was om meer fundamentalisties en irrasioneel te word. Dis ’n universele, ou verskynsel. Met die “Verligting” in Europa in die 17de eeu het mense gereageer deur hulle terug te trek in nie-denke.
Baie gelowiges in Suid-Afrika het die afgelope tien jaar “revivalisties” gereageer op die angs wat die tye meebring en hul vrees om God te verloor. Hulle gaan na saamtrekke waar hulle dans, lofprys en ’n ander wêreld skep waarin hulle kan oorleef.
Dis meestal lekepredikers, soos mnr. Angus Buchan, wat sulke saamtrekke lei omdat teoloë onder verdenking staan.
Die saamtrekke wil ou waardes laat herleef. Hulle moedig mans en vroue aan om weer soos van ouds met mekaar om te gaan. En hulle glo mense se persoonlike sondes veroorsaak al die samelewing se ellendes.
In die afgelope tien jaar is daar meer kerke in Suid-Afrika gestig as ooit tevore. As studente sou ons dit “gonsgroepies” noem, maar dit is kerke in sitkamers, agterplase en skoolsale wat mense leer om “alles oor te gee aan God”.
Ook in gevestigde kerke is daar ’n piëtistiese backlash wat nou, in krisistye, vir mense op ’n naïewe manier preek dat geloof beheer het oor alles, ook die politiek en die ekonomie, en dat geloof alles kan oorwin.
Daar is ook kerke wat in dié tye meer behoudend word, soos die Doppers wat nie vroue op die preekstoel wil toelaat nie en die NG Kerk wat nie nader aan die “gekleurde” VGK beweeg nie. Lidmate se pyn om in krisistye te oorleef, gee die kerke ’n gaping om die status quo te handhaaf waar daar eintlik verandering moes wees.
Daar is kerke wat wil baasspeel oor ander kerke en oor die staat. En opportunistiese kerke wat regeringsleiers doop en orden om in die staat se goeie boekies te kom.
Daar is ook gelowiges wat die tye gebruik om hul spiritualiteit te verdiep.
Ek sal graag in ’n land woon waar kerk en staat mekaar versterk. Waar kerke met ’n gesonde stem praat oor armoede, hospitale, tronke, gays en waar daar ook al nood en pyn is. En dat die staat daarna sou luister.
Om God uit die samelewing te probeer haal, maak die samelewing siek - of dit nou die Grondwet, die regering, die ateïste of god-lose teoloë is wat God van ons wil afvat.
Vir kerke om gesond saam met die staat ’n pad te stap het ons egter gesonde beelde van God nodig as die Een wat help brûe bou en regverdigheid bevorder. ’n Regverdige samelewing is een waarin mense nie net vir hulself lewe nie; een waarin kerk en staat ook nie elk net na homself omsien nie.
Die Zoeloe-woord ukubuyisana pas hier - om mekaar halfpad te ontmoet om saam huis toe te gaan .
Ek hoop verandering kom in die volgende tien jaar. Dat kerk en staat sal saamstap. Dat hulle saam met God sal stap om die samelewing sterker en wyser te maak. En selfs liefdevoller.