Leer weer koninkrykstaal
2010-05-23 22:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Stephan Joubert
My gunsteling-boek oor leierskap is dié van die kerkleier Bill Easum, Leadership on the Other Side: No Rules, Just Clues (2002).
Hy skryf: “Everyone perceives reality through their Life Metaphors ... Life Metaphors construct reality for us rather than simply organising it. They create the world we inhabit rather than simply describing it. When our Life Metaphors change, we change.”
Ons taal is tekenend van ons begrip van die werklikheid.
Thomas Hine sê tereg: “When metaphors change, it usually means that reality has done so already.”
Daarom luister ek graag na die kerklike taal van mense wanneer ek iewers leierskapsopleiding doen.
Dit vertel gou of kerklike beheer aan die orde van die dag is en of die koninkryk van God veld wen.
Wanneer mense wat mekaar vir jare ken mekaar tydens kerklike vergaderings as “u” aanspreek, kan jy ook kommissies en dik verslae iewers te wagte wees.
In sulke omgewings is ek nooit verbaas om te sien dat kommissies vir die hoeveelste keer vir ’n kerklike geldelike verlies begroot nie.
Of dat kerklike aksies eers “behoorlik” goedgekeur moet word deur mense wat nie self daarby betrokke is nie.
In sulke omstandighede wen teoretiese gesprekke oor geloof; nie die praktyk en waagmoed daarvan nie.
Sodra ek in kerklike omgewings taal hoor wat te make het met “die pligte van ’n leraar” of “verslagdoening”, kan ek my kop op ’n blok sit dat die plaaslike leraar in sulke omgewings as algemene geestelike praktisyn of geestelike skakelbeampte beskou word wat almal ter wille moet wees.
Daar werk leraars as betaalde amptenare van die kerkraad wat mense moet besoek, bedien en tevrede hou.
G’n wonder nie dat ek ongelukkige, uitgebrande leraars in sulke omgewings raakloop.
Tesame met taak-gedrewe kerkrade waar ’n paar individue meen hulle moet oor almal “toesig hou”.
Ook het ek agtergekom dat daardie immergroen kerklike woord, “betrokkenheid”, gedurig opgevolg word met uitdrukkings soos: “Ons mense is onbetrokke”; “Hier by ons is geen geestelike groei of diepte nie”; of “Hoe kry ons ooit ons lidmate betrokke?”
Maak nie saak hoeveel keer jy aan hulle verduidelik dat kerkwees nie oor die “drie goor g’s” (getalle, geboue, geld) gaan nie, word alles steeds hieraan gemeet.
In sulke omgewings hoor jy gedurig van “doodsheid” omdat mense nie “getrou inskakel” by uitgediende programme wat kunsmatig met kerklike aarvoeding aan die lewe gehou word nie.
Ons kerklike taal verraai ons onbeholpenheid om doeltreffend deel te naam aan die alledaagse lewe as burgers van God se koninkryk.
Is dit dalk hoekom die kerknavorser George Barna bevind het hoe langer mense in die kerk “betrokke” is, hoe minder oefen hulle enige invloed in die samelewing uit?
Jesus gebruik nooit kerktaal nie. Woorde soos “uitreike” of “evangelisasie” is nie eens op sy lippe nie, want Hy is lankal reeds daar!
Jesus ken geen “ons/hulle”-wêreld nie.
Sy koninkrykswêreld is nie dié van statiese monumente of godsdienstige instellings nie.
Jesus se taal oor God se koninkryk speel af in die lewe van elke dag.
Dit is ondermynend, sorgvry en bevrydend – vir benouende kerklikes, bedoel ek!
Die invloed van Jesus se groepie koninkryksnavolgers wat Sy taal napraat en -leef, is altyd op die grondgebied van ander koninkryke te bespeur.
Wanneer een liggie in die donker begin skyn, of as ’n bietjie suurdeeg in ’n bak meel beland, of as mosterdsaad tussen ander plante begin groei, dán eers sien jy die koninkryk van God in aksie.
Die uitdaging is om weer die metafore van God se koninkryk aan te leer.
Wanneer ons opnuut die koninkrykstaal van Jesus baasraak – wat te make het met spontane groei, daar wees, liefde en waagmoed binne God se ryk – gaan ons koppe, harte, lippe, vingers en voete dit begin glo en begin nadoen.