Op pad na geregtigheid
2010-04-04 22:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Nico Botha
Hier kry die inwoners van die nedersetting Bethlehem in Pretoria toe ’n aangename verrassing met die verskyning van Paasvader Jacob!
Op grond van die grondwetlike verantwoordelikheid van die regering teenoor alle landsburgers en ’n bykomende verantwoordelikheid teenoor arm mense moet die besoek van die president aan wit, arm gemeenskappe aangeprys word – dis nou te sê as ’n mens jou agterdog vir ’n rukkie op vakansie stuur en alle skreiende weersprekinge eenkant toe skuif.
’n Aantal belangrike metafore met betrekking tot die besoek kom na vore. Allereers die naam Bethlehem, soos die geboorteplek van Jesus. Die naam beteken iets soos “huis van brood”.
Vir arm mense is dit waarskynlik ’n soort dubbelheid, met aan die een kant die ironie daarvan om in ’n Bethlehem te woon en tog broodgebrek te ly.
Aan die ander kant miskien tog hoop oor die Een wat in Bethlehem gebore is en homself as die “brood van die lewe” sou identifiseer.
Met Paasfees sou daar in baie kerke hier en wêreldwyd weer brood gebreek word rondom die tafel, tereg ter herinnering aan die manier waarop Jesus se liggaam aan die kruis gebreek is.
Dalk is daar iewers darem nagedink oor die verband tussen die nagmaal of eucharistie en die broodgebrek in die wêreld. Of, meer pertinent gestel: Die absoluut ongelyke verdeling van die brood.
Die roeping van die kerk is om solidêr te wees met die armes en almal wat broodgebrek ly.
Hierdie perspektief word helder en sterk verwoord in die belydenis van Belhar, waar God self geteken word as die God wat op ’n besondere wyse aan die kant staan van noodlydendes, armes en as die Een wat brood gee aan hongeres (inwoners van Belhar in die Wes-Kaap het met ’n soort ironiese spottery die naam omgedoop tot “Belhungry”).
Een van die dieptepunte van Belhar is dat daar met die identifisering van armes geen enkele verwysing na etnisiteit, ras of velkleur is nie.
Zuma is reg as hy sê dat armoede nie ’n kleur vertoon nie. Alle armes oral in die land verdien die dringende aandag van die staat en in besonder die Christelike kerk.
Want op ’n paradoksale manier gee die armes aan Suid-Afrikaners ’n nie-rassige identiteit, juis omdat armoede kleurblind is. Die groot uitdaging vir allerlei groeperinge in die land is vervolgens dan om self nie te diskrimineer in hul pogings om hulp te verleen aan armes nie. ’n Arme is ’n arme afgesien van die tekstuur van die hare.
In gesprek met die armes sal die kerk dalk weer iets van sy eie sinisme oorwin en ’n aansteeklike humor, vreugde, hoop en solidariteit onder die armes vind wat die kerk sommer weer sal laat opstaan.
Dis belangrik om op te staan uit die oorvloed en die hebsug, uit die woede en die wanhoop en om verby die sopkombuise en meals on wheels te kyk – hoe noodsaaklik en prysenswaardig sulke dinge ook al mag wees – en te weet dat die laaste opstand in Suid-Afrika ’n rebellie van die armes is.
’n Rebellie om die vraatsug te vernietig en die plundering van die bronne stop te sit sodat daar groter gelykheid gevestig kan word.
Is dít ’n totaal oordrewe en oorspanne interpretasie van die opstanding van Jesus uit die dood?
Of het so ’n verstaan tog die potensiaal om die suiwer akademiese stryery oor of Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het en of die opstanding bloot metafories verstaan moet word, op ’n ander baan te stuur?
En om weer tot Belhar terug te keer?
Sonder dat daar ’n direkte verwysing na die opstanding is, sou ’n mens kon sê dat die kerk op grond van Jesus se opstanding uit die dood “mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder meer ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom”.
Dit gaan dus nie bloot oor mobiele klinieke, rioolstelsels, skoon water en huisies nie. Dit gaan oor die regte van die armes en geregtigheid vír die armes.