Prullerige, dodelike kaf
2011-10-11 22:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Rhoda Kadalie
Kallie Kriel se reguit reaksie op die joernalis Adriaan Basson se vroeëre aanval op AfriForum is die soort openbare debat wat ons behoort te hê.
Die politiek korrekte nuusmedia het AfriForum veroordeel omdat hy dit durf waag het om Julius Malema te dagvaar vir daardie afskuwelike lied waarin die woorde “skiet die Boer” voorkom.
Die lied bly weersinwekkend, of dit nou in die vryheidstryd gedreunsing is of nie.
Dit sal haatspraak bly, of regter Colin Lamont nou daarteen beslis het of nie.
Tog hou die alte vroom Basson vol dat AfriForum se regsaksie geinspireer is deur regse opwellings wat Suid-Afrika verder polariseer.
Wat as ek die teendeel beweer?
Wat as ek aanvoer dat AfriForum dit juis gedoen het om rassisme en polarisasie te stuit?
Kriel, in die uitlig van ander klagte van haatspraak wat deur die Sonke Gender Justice Network by die gelykheidshof ingedien is, en die gay-stemmingmakery teen Jon Qwelane se anti-homoseksuele aanvalle, vra tereg waarom Basson nie ook dié organisasies veroordeel vir die beskerming van minderheidsregte nie.
Dit is nie AfriForum wat die burgerlike samelewing gepolariseer het nie, dit is Basson se dubbele standaarde!
Die onthulling van prullerige redenering is wat ons land nodig het.
Openbare dialoog is deurspek met halwe waarhede. Joernaliste is oppervlakkig oor ingewikkelde kwessies en het dikwels nie die moed om politiek ongewilde standpunte in te neem nie.
Hulle sal moeite doen om wit mense aan te val wat erns maak met die beskerming van hul regte, maar sal terugdeins wanneer swart mense die regte van ander skend.
Die “kwesbaarheid van swart mense” het onskendbaar geword – die onaantasbare politieke G-kol!
En as jy as wit mens enige roem wil verwerf, val jou eie aan. Dit is waaroor die veldtog Tuiste vir Almal en welvaartbelasting eintlik gegaan het.
Die goeie wit mense teen die slegte wit mense; die kokosneute teen die klapperdoppe.
Wit mense word te maklik beskou as onwaardig van grondwetlike regte; en diegene wat dikwels hul regte negeer, is ander wit mense – die hekwagters wat hulle die oordeelsreg toeëien.
Ook aan Suid-Afrika se universiteite is eendersdenkende kommissarisse.
Dit is dus geen wonder nie dat die geesteswetenskappe aan ’t kwyn is, soos berig is in die jongste Mail & Guardian.
Prof. Lawrence Hamilton verskaf redes vir die agteruitgang: afnemende studentegetalle, kwynende afstudeersyfers, dalende finansiering deur die staat, hulpbronne wat stagneer, ’n gebrek aan topgehalte-navorsingsuitsette.
Tog versuim Hamilton om die ernstiger rede vir die agteruitgang te noem: Die kultuur van politieke korrektheid en selfsensuur wat in die geesteswetenskappe vaardig is.
Voor 1994 was die debat, kritiek en wisselwerking tussen akademici en politieke instellings lewendig, plofbaar en opwindend.
Deesdae vermy akademici omstredenheid. Hulle huiwer om die vrae te stel wat saak maak. Min akademici lees of skryf, selfs al is boeke en rekenaars hul produksiemiddele.
Intellektualiteit word met afkeur bejeën; die woord “ivoortoring” word gebruik om die lewe van die gees te kleineer; stemmery in fakulteite en senate word dikwels gedryf deur politieke eerder as akademiese oorwegings.
Ons hoofregter regverdig sy swak publiseringsgeskiedenis deur sy gebrek aan passie vir skryf!
In die ander vakgebiede kan studente nie wegkom met sulke intellektuele roekeloosheid en kaf nie.
As jy in ’n hartoperasie die verkeerde insnyding doen, sal die pasiënt sterf. As ’n vliegtuig swak gebou is, sal dit neerstort.
As ons nie afval herwin nie, sal ons aardverhitting vererger. In die geesteswetenskappe is die uitwerking van swak navorsing nie so onmiddellik nie, maar dit kan ewe dodelik wees.
Kadalie is ’n menseregte-aktivis.