SA ontdek sy Afrika-vyande
2012-02-10 21:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
André le Roux
Ná 1990 en veral ná 1994 het Suid-Afrika ’n goue era van geleentheid en politieke invloed in Afrika betree. Afrika het oudpres. Nelson Mandela se vrylating as ’n politieke bevryding vir die hele vasteland beleef.
Oudpres. Thabo Mbeki het op die kruin van dié sentiment Suid-Afrika aan Afrika aangebied as die lanseerplatform van die vasteland se ekonomiese en politieke emansipasie. Sy verklaarde roeping was om Afrika polities te Afrikaniseer en ekonomies eens en vir altyd te dekolonialiseer.
Sonder ’n formele mandaat van die Afrika-Unie (AU) het Mbeki Afrika se gelykwaardigheid aan ontwikkelde lande verklaar. Met berekende staatsbesoeke het hy elke geleentheid benut om “namens Afrika” te verskyn op die amptelike foto’s wat by wêreldforums soos die G8-leiersberade geneem word.
Mbeki het “namens Afrika” toegesien dat Suid-Afrika, ver buite sy portuurgroep, lid word van die G20, waar die wêreld se groot moondhede besin oor die stand van die internasionale ekonomie.
Toe gebeur Polokwane in 2007.
Pres. Jacob Zuma het gou die gemak van Mbeki se Inkwazi-straler ontdek, met die wêreld se leiersforums ook as sý bestemmings. Hy het Mbeki se mantel as vredesmakelaar in Afrika se brandpunte oorgeneem, waaronder in die Ivoorkus, Zimbabwe, Soedan en Libië.
Maar iewers het Zuma hom misgis deur te glo dat Afrika gediend sal bly met Suid-Afrika as sy voorbok.
Dié mistasting het by die onlangse AU-spitsberaad in Suid-Afrika se gesig ontplof toe Zuma dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, sy voormalige vrou, in ’n komedie van diplomatieke onbeholpenheid voorgestoot het as kandidaat vir die voorsitterskap van die AU-kommissie.
Sy het verloor en Suid-Afrika het in die proses sy vyande in Afrika ontdek.
Die voortekens is ook nie “gelees” nie.
Suid-Afrika se huidige lidmaatskap van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad het wel met ’n AU-mandaat gepaardgegaan.
Hoe dan het dit Zuma nie vreemd opgeval nie dat Nigerië, ook ’n Veiligheidsraadlid, byna elke keer ’n ander standpunt as Suid-Afrika gehad het oor knelpunte in dié wêreld?
Het hy nie ingesien dat die AU omgesukkel is omdat Suid-Afrika alleen die vasteland in die G20 verteenwoordig nie? Nie eens toe die AU drie jaar gelede al sonder sukses daarop begin aandring het dat die AU Afrika as die AU by G20-sittings verteenwoordig nie?
Het Suid-Afrika nie gevoel die wind draai teen hom by die onlangse klimaatberaad (COP17) in Durban nie? Afrika, wat dit in Suid-Afrika se hande gelaat het om ’n klimaatfonds uit die rykste lande te wring, is met leë hande huis toe.
Nou, ná die meer onlangse AU-debakel, is Suid-Afrika by ’n keerpunt oor sy plek en rol in en namens Afrika.
Hy staan voor ’n openlike anti-Suid-Afrikaanse sentiment wat in die AU aangedryf word deur veral Wes- en Franssprekende Afrika-lande.
Die magsbalans in Afrika is aan die verander. Nigerië kan, ongeag sy kultuur van korrupsie en interne konflik, Suid-Afrika in 2016 verbysteek as Afrika se sterkste ekonomie, glo navorsers.
Zuma sal moet herbesin oor sy buitelandse beleid. ’n Goeie begin sal wees om sy minister van internasionale betrekkinge te “herontplooi”.
Hy sal dan politieke brûe in Afrika moet herstel om te keer dat Suid-Afrikaners met uitgebreide sakebelange op die vasteland gestrand word in lande wat ’n hekel ontwikkel het in ’n land wat sy internasionale invloed oorskat.
Dit verg ’n heel nuwe benadering.
Soos sake nou staan, kan Suid-Afrika vergeet van Afrika se steun in sy deursigtige veldtog om ’n permanente setel in die VN-Veiligheidsraad. Dis nou as ook dié verbeeldingsvlug ooit waar word.