Sien die twis vir wat dit is
2012-01-24 21:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Charl-Pierre Naude
Sowat ’n week gelede gebeur ’n interessante ding in die buurt waar ek woon.
’n Nuwe inwoner, ’n huurder, besluit om sy dienste op ’n groot plakkaat op sy voorhek te adverteer. Hy bedryf sommer ’n onderneming van sy huis af, sien.
Dié huurder onderverhuur ook sodat hy in wese ’n kommune bedryf.
Die buurtvereniging van huiseienaars was tereg ontstoke. Haal daai advertensie summier af, het hulle geëis.
Die nuwe intrekker, ’n swart man, het my vrou onverwyld van rassisme beskuldig en onderneem om “vir haar siel te bid”.
“Bid gerus,” het sy gesê, “maar daarna sal u steeds die kennisgewing moet verwyder.” Toe is hy nog meer ontstoke.
Hy is kennelik ’n goeie man (en hy weet dit), met goeie, piëtistiese Christelike waardes.
Sy was nog meer ontstoke toe sy besef haar reg – as ’n burger wie se familie die land sedert 1670 bewoon en bewerk – om haar buurt en swaarverdiende lewensgehalte te beskerm word bevraagteken deur ’n nuwe aankomeling van Wes-Afrika. En boonop op grond van “rassisme”!
Dit is nie ’n ontipiese situasie nie vir samelewings waarin die Eerste- en die Derdewêreld vermeng.
Feit is: Om ’n sakeonderneming in ’n woonbuurt te bedryf, laat staan nog dit op die muur of hek adverteer, is teen die regulasies.
Om ’n kommune te bedryf sonder regulering of toestemming insgelyks. Alles met goeie rede.
Om ongekontroleerde kommunes en versnyde woon- en werkbuurte toe te laat, laat huispryse en lewensgehalte daal en werk algemene verval in die hand.
Die geraasvlak styg, higiëne daal (werkplaashigiëne verg ’n ander soort regulering), besoedeling neem toe en veiligheid en nauurse ontspanning word belemmer.
Mense betaal soms ’n leeftyd aan hul “rustige” woonplekkie af. Ons praat dus nie hier van ’n botsing tussen baie ryk en arm nie.
Daar is geen rede waarom ons swart entrepreneur nie binne etlike jare ryker as sy wit middelklasbure sal wees nie.
Die botsing is tussen bewese stedelike verfyningstrukture wat álmal kan bevoordeel en ’n vryer saamleef waarin sulke voordele nie nodig geag word nie.
Albei kante het ’n saak. Ons “kerkman” van Wes-Afrika se saak sal deur vele swart Suid-Afrikaners, wat net so opreg soos hy is, gesteun word.
Mense soos hy wil maar net ’n lewe maak. Dit is hul goeie reg. Boonop onthou swart mense apartheid, ’n stelsel wat meegebring het dat werk soms tot honderde kilometers van hul woonplek was.
Hulle haat hierdie soort skeiding en stel die aanname dat werk- en woonplek op dieselfde plek moet wees summier gelyk aan anti-apartheid en by verstek aan vryheid.
Mense soos die man in hierdie verhaal kom meestal uit die townships uit, waar werk- en woonbuurt nog nooit streng geskei was nie. Maar laat ons nadink voordat ons hom van ’n gebrek aan beskawingspeil beskuldig.
Vroegmoderne Europese woonbuurte en werkbuurte was ook nie geskei nie. In die ou dele van ou stede is dit steeds nie geskei nie.
En is dít nie juis die stede wat aan die wêreld die modernisme en sy gepaardgaande tweeling, die “beskawing” (soos wit mense dit graag eien), gegee het nie?
Die skeiding van werk- en woonbuurte is ’n uitvloeisel van die latere modernisme, van samelewings wat reeds goed ontwikkel is.
Die botsing hierbo is dus nie ’n saak van wit teen swart, ook nie beskaafdes teen onbeskaafdes nie.
Dis bloot tussen Eerstewêrelds (waarvan baie swart mense in Europa en ook in dele van Afrika ’n deel is) en Derdewêrelds (wat hier én elders ook nie sonder sy wit mense is nie).
Die oplossing sal wees om almal sover te kry om die konflik raak te sien vir wat dit is. En dit te stroop van al die onnodige wanpersepsies en randaspekte.