Van wors tot hond tot gif tot bors en Botox
2012-01-27 21:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Rhynie Greeff
Wyle Retief Uys, my sportkommentatorvriend, het my jare gelede vertel van die destydse SAUK-nuusleser wat ’n berig gelees het oor vlugtende gevangenes wat “op vrye voete” was en toe ’n nota van die interne taalpolisie by Auckland Park ontvang het dat die korrekte Afrikaans “op vrye voete” moes wees.
Die volgende aand praat dieselfde man toe van die Johannesburgse dameskoor wat “uit volle borste gesing het ...”
Wel, hier in Ye Olde Country of Ye Page Three Girls is daar nou ’n klaaglied uit volle borste van 45 000 Britse vroue oor hul borsinplantings.
Die probleem is dat baie Emily Englands die afgelope tien jaar Barbie Boobingtons geword het met wulpse borste wat skielik nie lekker werk nie – weens ’n bankrot Franse maatskappy se silikooninplantings wat ook chemikalieë bevat het wat in brandstofbymiddels en industriële rubberbuise gevind word.
Dit blyk nou dat daardie deurskynende buustesakkies te maklik skeur en toksies raak, soms met noodlottige resultate.
Gif in die liggaam is tragies, veral by vroue met werklike mediese behoeftes weens mastektomieë, maar ydelheid is ’n ander storie.
En dit bring ons by wors. Die Latyns vir wors is botulus.
Almal weet Suid-Afrikaanse boerebotulus is so lekker dat dit selfs ’n rioolplaasrestaurant suksesvol kan maak, maar in die 19de eeu was die inhoud van wors so verdag dat baie Amerikaners geglo het dat dit hondevleis bevat – en daarna as hot dogs verwys het.
In die 1820’s het ’n Duitse dokter, Justinus Kerner, voedselvergiftiging bestudeer en gevind dat swak bereide wors dit veroorsaak het.
So het hy voedselvergiftiging as botulisme beskryf.
Ná botulismesterftes in ’n Belgiese nagklub het ’n mikrobioloog in 1897 die nare botulisme- bakterie geïsoleer – clostridium botulinium – en dit kon vervaardig word, die kragtigste neurotoksien.
Een mikrogram en jy sterf onmiddellik weens verlamming.
Medici het egter gou gevind dat ’n inspuiting van ’n piepklein rapsie botulismegif tydelike verlamming kon veroorsaak wat pasiënte se gesigspasmas kon genees.
’n Pasiënt se vriende en familie kon nou sê: “Hei, jy glimlag effens eienaardig, maar jy lyk jare jonger.”
Uiteindelik kon Kerner se worsgif ou tannies soos jong bokkies laat lyk. Vaarwel plooie. Vaarwel plastiese chirurgie.
Die enigste probleem? Kerner se botulisme- toksien was nie juis ’n bekoorlike naam nie.
Oplossing? Noem dit Botox.
Gee daardie produkbestuurder ’n Nobelprys!
Nou kan Emily England ontslae raak van daardie lastige kommerplooie oor haar borsgif – dalk selfs by ’n haarkapper wat haar ’n klein inspuiting Botox so tussen ginnegapery en skêrknippe kan gee.
Soos elke kugel weet, is bors- en worsgif to die for, darling.