Verenig teen selfde duiwels
2012-02-05 21:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Christina Landman
Die ANC is nou 100 jaar oud. Die meeste van dié tyd het hy saam met die Christendom geloop. Die vraag is nou net: Was dit ’n gesonde two-step?
Of het kerkleiers heilige geweld by die ANC aangeblaas? En het geskrifte soos die Belhar-belydenis swart mense gewelddadige dinge laat doen met belofte aan ’n goddelike seën daarby?
Kyk, die ding staan só: Die ANC het nie die land met geweld oorgeneem nie. Die ANC het – met of sonder die kerk se hulp – nie die politieke stryd met geweld gewen nie.
Hy het dit juis gewen wanneer hy op sy weerloosste was. Soos met Sharpeville.
Toe ongewapendes met geweld uitmekaar geskiet is deur die “boys on the border back home” wat ernstig deur die wit kerk ondersteun is. En die hele wêreld kon sien wat gaan aan.
Die ANC het wel baie steun van die swart kerke gekry, oftewel van die swart teologie.
En dit was ’n teologie wat geweldige dinge gesê het. Dit het vir swart mense gesê alle mense het waarde in God se oë.
Dis wat Allan Boesak en Beyers Naudé – en ook Albert Luthuli en Steve Biko – gesê het.
En dis wat die Belharbelydenis ook sê: Mense het soveel waarde dat God spesiaal aan die kant is van mense wat van hul waardigheid beroof is deur armoede en onderdrukking.
En, nou ja, uiteindelik was dit hierdie swartbevrydingsteologie wat die ANC aan die bewind geplaas het.
Maar dit was nie soos die een groot, wit kerk wat die apartheidsregering ondersteun het nie.
Daar was nooit in die ANC se geskiedenis een groot swart kerk wat die ANC se politieke strewes ondersteun en geweld gewettig het soos wat die toentertydse NG kerk gedoen het nie.
Deur die ANC se hele geskiedenis was daar verskeie pogings om al die swart kerke in een kerk te verenig om meer stem aan die kerk te gee. In 1919 al was daar ’n poging om ’n “United Native Church” vanuit Bloemfontein te stig.
En in 1933 is die ANC se nasionale kongres genader om ’n “United National Church in Africa” te stig.
Maar dis telkens doodgebore. Nie omdat die ANC-politici dit nie wou hê nie, maar omdat die kerkleiers nie hul leierskap in een kerk wou opgee nie.
En dit laat mens dink. Wat de duiwel doen ons in die kerk? Is dit nie tyd dat ons begin hande vat oor kerkgrense heen en belangrike dinge begin aanpak nie?
Hier, skielik, kom ’n brief aan van ’n generaal wat die Belhar-belydenis van geweld beskuldig.
Dis net ’n vuil truuk om onmin tussen kerke te saai.
En ironies is al die truuks wat die generaal in die brief uithaal om Belhar en die swartbewussyn-teoloë by te kom truuks wat die wit teologie hom geleer het: die demonisering van die ander as kommuniste, die persoonlike verdagmakery van kerkleiers asof hulle immorele mense is.
Die kerke moet nou in ’n nuwe eeu speel. Los die politieke-geweld-storie in die verlede waar dit hoort.
Ons weet almal dis nie nou meer ter sake nie. Nou moet die kerke hul rol begin speel as lid van die burgerlike samelewing.
En ander soorte geweld aanpak. Geweld in intieme verhoudings. Ekonomiese geweld teen armes. En geweld teen die aarde wat besig is om haar laaste asem uit te blaas.
Eintlik moet al die godsdienste hande vat. Want al dink party mense nie dat ons dieselfde God aanbid nie, het ons almal dieselfde duiwels wat ons moet aanvat.
Ek wonder of daar nie iemand is wat ’n forum wil stig om die godsdiensleiers bymekaar uit te bring nie.
Dat ons ’n slag ’n groen ding saam kan doen. En dan nooi ons sommer die agnostici en die ateïste ook na die tafel.
Toe ek jonger was, het mense gedink ateïsme is ’n gedragsafwyking. Nou kan ons eerder glo in die “dignity of diversity”.
Ons kan godsdiens nou anders bedryf. Met nuwe doelstellings. En ’n breë bors.
En arms wat ’n groot verskeidenheid kan omvou. Kom ons maak die kerk, die godsdiens, die a-godsdiens, almal, volhoubaar teen geweld.