Gasrubriekskrywers

Want taal ís verbeelding

2010-03-02 23:37

Mnr. Johann Rupert, groot Afrikaanse sakeman, se toespraak met sy inhuldiging as kanselier van die Universiteit van Stellenbosch (US) bevat opmerkings wat vra om verdere ontleding. Ondanks sy uitdruklike liefde vir sy moedertaal het hy gesê uitnemendheid en nie taal nie moet Maties se belangrikste fokus wees.

Hy verwys na die “kennisrevolusie” en vra: “Ons berei studente voor op beroepe wat nog nie bestaan nie... en dan debatteer ons oor taal?”
Waarom moet die belang van taal en uitnemendheid téénoor mekaar opgestel word? Die pad na uitnemendheid loop déúr taal en kan nie plaasvind sonder behoorlike taalhandhawing nie. Rupert se opmerking verraai ’n uitgediende idee, naamlik dat kennis (die produk van enige universiteit) onafhanklik van taalhandhawing kan bestaan.

Kennis word noodwendig deur middel van taal, en nie toevallig deur taal nie, geproduseer.
Dus is die strewe na uitnemendheid en die verskeie bekommernisse oor taalhandhawing (nie net van Afrikaans nie) direk eweredig aan mekaar, en nie teenstrydig nie.

Rupert het by geleentheid agting afgedwing toe hy onomwonde sy stem dik gemaak het oor diskriminasie teen Afrikaans in die sakewêreld. Hy het tereg die diskriminasie as ’n aanval op sy Afrikaanse identiteit beskou. Kommer oor Afrikaans as ontwikkelde, moderne Afrika-taal, dit wil sê ’n taal van die letterkunde en wetenskap en tersiêre navorsing, behoort egter nié in die eerste plek te gaan oor Afrikaanse identiteit (of akkurater, Afrikaanse identiteite) nie. Daaroor ook, maar nié in die eerste plek nie.

In die eerste plek, en in die wêreldkonteks, gaan die kommer oor die terugdruk van Afrikaans by Stellenbosch oor ’n bepaalde besef, een wat oor die wêreld heen groei en wat skynbaar nie in Rupert se toespraak erkenning kry nie.
Dit is ’n besef oor die noodlottig taalgebonde aard van verbeelding, en dat verbeelding alle tale, veral dié wat reeds genoeg ontwikkel het, dringend nodig het.

Rupert praat van ’n “nuwe leer-struktuur” en “die tegnologie”. Die probleem wat ek hiermee het, is een wat ek dikwels teëkom by uitsprake oor die eietydse. Hulle gee erkenning aan die wêreld se snel veranderende “bowebou”, maar geen erkenning gaan aan iets veel meer fundamenteel nie: dat ons ganse onderbou ook verander het.

Hulle interpreteer “kennis” en “uitnemendheid” asof steeds begrond op ’n verbygegane moderniteit, al klink hulle ook hoe “eietyds”. En veral hierin lê die miskenning van taal, en weliswaar van tale. Want as jy eers aanvaar het dat kennis verbeelding is (soos wat die postmoderniteit ons onherroeplik uitwys) en nie vasstaande “feite daarbuite” nie, word elke taal wat die wêreld opgelewer het ongelooflik belangrik. Want elke taal is ’n produserende, aanvullende verbeeldingstelsel. In elke taal lê, hipoteties gesproke, ander, daadwerklike wyses om “in die ruimte” te kom. (Stellenbosch ís mos trots op sy rol as ruimtenavorser?)

Nog ’n eensydigheid in Rupert se toespraak is ’n swyende gelykstelling van die strewe na kennis met die utilitêre (die lewe as verbruiksartikel). Die wêreld as utilitêre ryk, waarvan die kapitalisme soos ons dit ken die vernaamste draer was, moet die een of ander tyd in iets anders oorgaan. Dis gewoon nie volhoubaar nie.

Ware uitnemendheid behoort erkenning te gee aan die ander strewes van verbeelding en begeerte wat sluimer in die wêreld se verfynde denk- en gevoelstrukture. Die utilitêre is nié die enigste, of selfs die belangrikste, betekenisdraer nie. Die onderhouding van taal, die vernaamste draer van daardie ander hoë strukture, is kardinaal.

Ware uitnemendheid bepeins voortdurend die alternatiewe, nie slegs die vereistes en spoed van dit wat vanselfsprekend op hande is nie. ’n Noodsaaklike beskermer van die diversiteit van uitnemendheidsvorme was nog altyd universiteite.

Die miskenning van taal en veral van Afrikaans, waarvan Stellenbosch histories die simboliese beskermer is, sal lei tot die aftakeling van daardie diversiteit. Rupert bied sy toespraak aan in die teken van die noodsaak om te belê in die toekoms. In die lig van wat ek hierbo sê: Is dit werklik sy oorwoë erns?

Die toekoms is ’n baie lang tyd.

Binne Beeld

Weather
Lottery
Cpt: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.