Gasrubriekskrywers

Wat dryf ANC se kerkstorie?

2012-01-26 21:35

Jan-Jan Joubert

Die ANC is op 8 Januarie 1912 in die Wesleyaanse skoolsaal in die destydse Waaihoek-lokasie in Bloemfontein gestig, waar die groot koeltorings aan die stad se suidoostekant nou staan, langs die klein Wesleyaanse kerkie waarin emeritus aartsbiskop Desmond Tutu die ANC se vryheidsvlam op 8 Januarie vanjaar geseën het.

Hieroor stem alle primêre tydgenoot­like bronne saam en in geen geskiedenisboek oor die onderwerp waarop ek my hande kon lê, word beweer die ANC is in ’n kerk gestig nie.

Nogtans het dr. Vukile Mehana, kapelaan-generaal van die ANC, in sy spreekbeurt, kort nadat Tutu die vlam geseën het, beweer die ANC is “seker die enigste politieke beweging wat op die kerk se altaar ontstaan het”.

Dis nogal ’n stelling en ’n half, en pas net te presies in die kraal van ’n organisasie wat soms beweer hy sal regeer tot Christus se wederkoms.

’n Mens sou graag wou weet waar Mehana aan sy bewering kom dat die ANC in ’n kerk gestig is. Het hy ’n empiriese bewys? Indien wel moet hy daarmee vorendag kom. Indien nie moet hy nie sy vergissing herhaal nie, want ’n vergissing wat herhaal word, is ’n leuen.

Waarom sou die ANC dan kluitjies bak en beweer hy is in ’n kerk gestig as dit nêrens so blyk te wees nie?

Ek wens ’n mens kon seker wees dis maar net ’n onskuldige feitefout en dat die ANC so waarheidsliewend is dat hulle dit sommer gou sal regstel, of ten minste nie sal herhaal nie.

Ons sal maar moet sien, maar ek is bevrees ’n mens moet eerder bedag wees daarop dat ’n nuwe mite willens en wetens geskep word, een wat sal posvat as dit nie beveg word nie.

Dit is nie moeilik om voor jou geestesoog te sien hoe dit spoedig as aanvaarde feit opgedis word dat die ANC in en uit die kerk ontstaan het nie, met die versluierde ondertoon dat dit darem maar ’n sonde is om die party teen te staan.

Dis ’n redelik nuwe laai van die ANC om godsdienstige bewerings as politieke wapens aan te wend. Dis ’n gevaarlike neiging.

Die ANC, soos enige regering, is maar net ’n groep mense wat op ’n gegewe oomblik die meerderheid kiesers se voorkeur is om vir ’n afgebakende tydperk die land te regeer.

As die regering die kiesers tevrede stel, sal hy herkies word. As die meerderheid kiesers meen daar is ’n beter alternatief, sal die regering val.

Regerings begin op ’n goddelike magsbasis aanspraak maak as hul prestasies dun raak en verskeie onlangse ANC-uitsprake kom naby daaraan.

Dit sal die ANC, en alle ander politieke partye, baat om te onthou God stem nie in verkiesings nie en daar is nêrens in die Bybel enige aanduiding dat God ’n partypolitieke voorkeur het nie.

Kiesers is mense en mense is feilbaar. Kiesers maak foute en die kiesersmening moenie met enige Godsmening verwar word nie.

Wêreldwyd het oorloë al ontstaan wanneer godsdiens en magspolitiek verstrengel raak. Dis ’n giftige mengsel.

Kan dit wees dat die ANC onbewus is daarvan? Tog seker nie. Of is dit maar net ’n verdere aanduiding van hoe die party lostorring en wegskram daarvan om deur rasionele kritiek gemeet te word? Dit lyk so.

Gevaarligte brand op soveel vlakke vir die ANC. Daar is korrupsie, swak dienslewering, selfverryking en die gevolglike onverkwiklike binnegevegte.

Voeg nou maar daarby ’n bewustelike verdraaiing van die geskiedenis en ’n misbruik van godsdiens, tensy die ANC ophou met die onsin oor sy stigtingsplek.

Die ANC het ’n roemryke geskiedenis, gekenmerk deur menslike feilbaarheid. Deur dit so onnodiglik te verdraai, maak die ANC homself en sy verlede goedkoop.

Dit is in die belang van die ANC om eerder die waarheid te praat oor sy stigtingsplek, en sommer oor alle ander dinge.


Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 12-22°C Sunny. Mild. Pta: 6-18°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 3-15°C Sunny. Quite Cool. Bfn: 2-18°C Morning clouds. Cool.
Dbn: 12-23°C Mostly sunny. Cool. PE: 11-23°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

BMW

645 Ci Convertible AT
2005
R 549,995.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 71,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.