Pas op: Vrye denke voor!
2010-04-20 21:59
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Jonathan Jansen
Die nagevolge van intellektuele klimaatsverandering in die land is nêrens so waarneembaar soos op die dorre kampusse van ons 23 universiteite nie.
Daar was ’n tyd toe universiteite plekke was waar intense debatte, prikkelende seminare, stimulerende dokumentêre en inspirerende lesings aangebied is. Dit is iets van die verlede.
Dit is waar dat regstudente nog plek-plek ’n skynverhoor hou of dat argitektuurstudente ’n tentoonstelling aanbied.
Maar wat idees betref, het kampusse grotendeels dooie leegtes geword. Waar ons universiteite vroeër intellektuele vir die samelewing opgelewer het, slyp hulle nou vaardighede vir die ekonomie.
Ons universiteite lyk al hoe meer soos fabrieke met fakulteite en departemente as die masjinerie wat menslike produkte vir die markplein genereer.
Op ons kampusse en in ons land ruil ons nie meer idees uit nie. Ons verskreeu mekaar. Die oomblik wanneer iemand ’n idee het, word dit beskou as iets om oor te skreeu en te baklei.
Probeer ’n debat begin oor die rol van Afrikaans in voorgraadse onderrig op Stellenbosch of Potchefstroom en die hel is los.
Opper ’n argument téén die verbod op liedere met ’n historiese konnotasie – soos “De la Rey” of “skiet die Boer” – omdat die verbod op musiek nie gepas in ’n demokrasie is nie en jou ore tuit weens die gif wat om jou gespoeg word.
’n Universiteit, anders as ’n kerk, moet ’n plek wees waar idees aangebied, uitgeruil, verdedig en uitgedaag kan word. ’n Kampus moet ’n veilige ruimte skep waar mededingende ideologieë aangehoor kan word.
Natuurlik is ons ’n jong demokrasie. Ons het onder die outoritêre en verdrukkende hand van die apartheidsbewind grootgeword en is, in wisselende mate, daardeur beïnvloed.
Nou moet ons maniere aanleer om met mekaar te kommunikeer deur na mekaar te luister en dan deur dialoog en debatvoering ons eie mening aan te bied.
Wanneer ons verskil, selfs skerp verskil, behoort dit steeds vir ons moontlik te wees om vriende te bly.
Kyk na die universiteite oor ons land heen en u sal ’n verontrustende nuwe neiging opmerk.
Hierdie instellings vir hoër onderwys het slagvelde geword waar studente dinge eis; waar hulle gewilde leiers word omdat hulle gratis onderwys eis, deur daarop aan te dring dat niemand akademies uitgesluit word nie, en deur op huisvesting, kos en vervoer aanspraak te maak.
Vir baie studente is die universiteit maar net nog ’n welsynorganisasie waar jy óf kry wat jy eis óf die plek afbreek.
In so ’n klimaat kan geen debat wees nie, byvoorbeeld oor die verdienste, al dan nie, van gratis onderwys in ’n kapitalistiese ekonomie.
Nee, in sulke omstandighede bestaan ’n universiteit bloot om te gee of, beter nog, toe te gee aan die welsyn-eise van ’n toenemend toornige studentekorps.
Maar daar is ’n ander groep studente wat geen belang daarin het om te leer dink, argumenteer en idees verwoord nie.
Hulle soek net ’n vel papier, en hoe gouer hulle hul kwalifikasie kan kry, des te beter.
Enige poging om ’n brug te slaan tussen kennis in die formele kurrikulum en netelige kwessies buite die kampus – soos die wêreldwye resessie – word beskou as irrelevant tot die “notas” wat hulle moet bestudeer vir die eksamen.
En daar is natuurlik nóg ’n groep studente op al ons kampusse. Vir hulle is die universiteit bloot ’n plek vir partytjie hou en rondslaap; ’n plek waar jy jouself onkapabel drink en jou ouers se geld mors.
Dit is soos ’n stopjaar op die kampus. Die laaste waarvan hierdie groep jollers wil hoor, is enigiets wat denke verg.
By die Universiteit van die Vrystaat is ons voornemens om die akademiese standaarde vir toelating jaarliks te verhoog sodat die studente wat ons trek ernstig oor hul studie is én gretig om die neteligste kwessies van ons tyd aan te durf deur ’n opvoeding wat wyer strek as toetse en eksamens.
Die grootste bedreiging vir ’n roekelose regering is jongmense wat die kuns bemeester het om selfstandig te dink.