Muishondvel is afgeskud
2010-06-03 22:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Tim du Plessis
Dis deesdae nie meer sleg om ’n wit Afrikaner te wees nie.
Tot nog taamlik onlangs was “wit Afrikaner” mos sinoniem vir “muishond van die wêreld”.
Veral in die Angel-Saksiese wêreld – Brittanje, die VSA, Kanada, Australië en selfs die onbenullige Nieu-Seeland – is wit Afrikaners gesien as die verpersoonliking van alles boos en rassisties.
Ja, wit Afrikaners wás in die hoogbloeijare van apartheid rassisties.
En die wette en die stelsel wat bedink is in die naam van Afrikaner-oorlewing was erg diskriminerend en verdrukkend.
Maar was SA se wit mense die enigste boosaards?
Die sistematiese etniese suiwerings wat die Engelse setlaars in byvoorbeeld die VSA en Australië toegepas het om wit meerderhede daar te verseker, is grotendeels verswyg, selfs nou nog.
Iemand het eendag geskryf die breë patroon was dat die Angel-Saksiese setlaars uitgemoor het ter wille van oorlewing, terwyl die Europese setlaars – wit Afrikaners se voorouers – oorheers en verdruk het.
Besluit maar self wat is die slegste van dié twee euwels.
Dis nie veel meer as ’n aanvoeling nie, maar dit lyk tog of die stereotipe beeld van wit Afrikaners as benepe rassiste wat dweep met godsdiens en gekant is teen alle vorme van verandering aan die vervaag is.
Indien nie in Suid-Afrika nie, beslis dan in die buitewêreld.
In my weliswaar beperkte interaksie met buitelanders beleef ek nuuskierigheid eerder as veroordeling betreffende die onderwerp “Afrikaners”.
Ons is nie meer outomaties Beskuldigde Nommer Een nie.
Veral nie met die land wat so vrot regeer word nie.
En ook nie met ’n ANC wat van binne aan’t verrot is weens korrupsie, magswellus, tweespalt en selfverryking nie.
Niks daarvan kan meer op die brood van wit Afrikaners gesmeer word nie.
“Die erfenis van apartheid” is ’n sat ou perd, op sy knieë.
Selfs pres. Jacob Zuma het nou al ’n paar keer gesê die tyd is verby dat apartheid die skuld kan kry vir alles wat vandag verkeerd is.
Net jammer dit gaan heeltemal oorskadu word deur die jongste babastorm wat nou om Zuma losgebars het.
Met bes moontlik nóg op pad.
Net as jou persoonlike sake nog nooit van koerantplakkate af uitbasuin is nie, sal jy schaden-freude voel oor dit wat nou met
Zuma gebeur. Die arme man.
Tog, wees maar dankbaar jy is nie ’n ANC-ampsdraer wat dít hoef te verdedig of verduidelik nie.
Want ook dít is een van die goed waarvan wit Afrikaners bevry is: Ons hoef nie meer nare goed te verdedig wat ander Afrikaners in ons naam gepleeg het nie.
Op e-News dié week het nuusleser Nikiwe Bikitsha mnr. Ya’akof Finkelstein, adjunkhoof van Israel se missie in Pretoria, omtrent lewendig gebraai oor sy regering se see-aanval op ’n hulpkonvooi aan die Gasa-kus.
Net meer as twee dekades gelede was dit Afrikaanssprekende diplomate wat op Europese en Amerikaanse TV-kanale geskarrel het om burgerlike sterftes te verduidelik wanneer die ou SAW sy offensiewe in die buurlande begin het.
Dankie tog dit gebeur nie meer nie.
Wit Afrikaners, al kan hulle as hulle wil, hoef nie kant te kies in die konflik tussen die Israeli’s en die Palestyne nie en dis bevrydend.
Aan dié jansalies wat aanhou sê: “FW het die Afrikaners uitverkoop”: As dit nie was vir 2 Feb. ’90 nie, het ons vandag gesit presies waar die Palestyne en die Israeli’s nou is: vasgeketting aan ’n bloedige konflik sonder die geringste moontlikheid van ’n vreedsame oplossing.
Die breë Afrikaanse gemeenskap – wit en swart – is op ’n reis van herdefinieer en herontdek.
Wit Afrikaners, veral die jongeres, neem deel aan dié proses as waarlik bevrydes.
Bevry van die rasse-meerderwaardigheid van die apartheidsjare én van die selfbejammering en slagofferskap wat post-1994 nogal wyd voorgekom het.