SA se eie ‘Praagse Lente’
2010-06-17 22:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ons beleef tans die SA weergawe van ’n Praagse Lente. Die land voel nogal goed om in te wees.
Die oorspronklike Praagse Lente het in Januarie 1968 begin toe Alexander Dubcek, Tsjeggo-Slowakye se destydse nuwe leier, ’n reeks politieke hervormings ingestel het wat die verdrukkende kommunistiese juk vir sy mense verlig het.
Maar dit het die Kremlin se ystermanne rooi laat sien. In Augustus 1968 het die tenks van die Warskou-verdrag Praag binnegeknars.
Dubcek is afgesit en sy hervormings is herroep. Maar in die sewe maande tussen Januarie en Augustus het Tsjeggo-Slowakye ’n opbloei en voelgoed-tydperk beleef wat later bekend geword het as die “Praagse Lente”.
Sedertdien is die uitdrukking wêreldwye omgangstaal vir ’n kort tydperk van heuglikheid en optimisme.
SA se “Praagse Lente” het op Saterdag 29 Mei in die Orlando-stadion in Soweto aangebreek toe die Bulls in die halfeindstryd van die Super14 teen die Crusaders gespeel en gewen het.
Toe hulle en die Stormers die volgende Saterdag terug is vir die eindstryd, was die ding beseël.
Hulle het die einde ingelui van een van die mislikste, terneerdrukkendste tydperke in post-1994-SA.
’n Tyd waarin baie wit Suid-Afrikaners begin glo het die toekoms lyk soos Julius Malema.
En toe die gedrag van Eugène Terre’Blanche se volgelinge ná die moord op hom swart Suid-Afrikaners maklik onder die indruk kon bring die meeste wit mense is wedergebore AWB’s.
Die Bulls-in-Soweto en die eerste week van WB 2010 het egter aan wit en swart Suid-Afrikaners ’n beter kant van mekaar gewys.
Ons is toe nie almal soos Malema of Terre’- Blanche se aanhangers nie, het ons agtergekom.
Dit was asof ’n mens kon voel hoe die land ontspan en weer tuis raak in sy eie vel.
Ek kan net praat as ’n wit Suid-Afrikaner en daarby ’n stedeling. Maar vir my lyk dit tog of wit en swart weer vir mekaar begin glimlag het, by wyse van spreke.
Dalk is dit my serp in die kleure van die landsvlag, maar oral knoop swart mense geselsies aan, oor Bafana, oor die koue of wat ook al.
Wit Suid-Afrikaners het geesdriftig op die Bafana-wa geklim, veral die jonges.
Hopelik het die ANC-politici wat altyd so vinnig is om te verwyt en te blameer, raakgesien hoe spontaan dit gebeur het.
In ons “Praagse Lente” het die land ’n inspuiting van verdraagsaamheid gekry wat ons bitter nodig gehad het, byna soos ’n adrenalien-inspuiting in ’n gestolde hart.
Die wedergebore AWB’s het teruggekeer na die vergetelheid waar hulle verdien om te wees.
Malema het stil geword. Dalk het die ANC se tugkomitee met hom gedoen wat Delila met Simson se hare gedoen het – sy krag weggevat.
Maar dis meer as dit. In ons “Praagse Lente” is Malema se skreeubek en sy bloeddorstige krete so onvanpas soos ’n vuvuzela by ’n simfoniekonsert.
En die ontelbare faksies in die ANC-alliansie was vir ’n wyle in dieselfde kamp – Bafana Bafana s’n.
Nadat die Russiese tenks die Praagse Lente op 21 Augustus 1968 verdryf het, het ’n winter van Sowjet-oorheersing en dwingelandy vir Tsjeggo-Slowakye aangebreek.
Dit het 22 jaar geduur, tot die val van die Sowjet-ryk in 1990.
Toe is die Praagse Lente herstel.
Twee nuwe lande het uit die puin verrys – die Tsjeggiese Republiek en Slowenië – netjies op die matriks van Dubcek se belangrikste hervorming 22 jaar tevore.
Die kanse is seker daar dat ons “Praagse Lente” sal eindig wanneer WB 2010 verby is, die dag wanneer Fifa en Sepp Blatter beheer van die land teruggee aan pres. Jacob Zuma en die ANC.
Of dit kan aanhou.
Al wat nodig is, is genoeg Suid-Afrikaners wat vasbeslote is om die soort land en gemeenskap te bou wat ons kan wees, die een wat ons was in die herfs/winter van 2010.