’n Land van ons en hulle
2009-09-04 01:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die reënboognasie het politieke varkgriep.
Ons is die laaste paar weke vier keer “getoets”. Die resultaat was telkens: siek, baie siek.
Caster Semenya, John Hlophe, Brandon Huntley en Nkola Motata het, by wyse van spreke, gewys ons ou lot is besig om van vooraf hatig op mekaar te raak.
Daardie goue paar jare toe die meeste uit hul pad gegaan het om verby ras na die beginsel in elke kwessie te kyk is verby. Deesdae sien ons weer net ras raak en niks anders nie. Allermins dit wat regtig tel.
Dis nie Australië wat toetse gevra het oor Caster se geslag omdat dit is wat in internasionale atletiek gebeur nie. Nee, dis wit rassiste wat nie kan aanvaar ’n swart atleet presteer nie.
Hlophe se ondersteuners probeer nie eens vra of hul man waarlik bekwaam en geskik is om ’n regter te wees nie. Nee, dis wittes wat hom “vervolg” omdat hy hul belange bedreig. Ontstellend baie swart mense koop in hierop, glo my gerus maar.
Brandon Huntley, Kanada se bekendste politieke vlugteling wat die massiewe misdaadprobleem in slaperige Mowbray onthul het, is dadelik as ’n rassis gebrandmerk. Erger nog, ook wit Suid-Afrikaners wat gesê het al lyk die perd nie so lekker nie, neem kennis daarvan dat ’n tribunaal in ’n gesofistikeerde, progressiewe land soos Kanada oordeel Huntley het ’n punt beet.
As die ware jy na vore kom die dag dat jou lyf vol dop is, dan weet ons nou juts Motata het nie veel ooghare vir die Boere (lees wittes) nie.
Die aand toe hy mnr. Richard Baird se tuinmuur in Sandton flenters gery het, het hy nie doekies omgedraai dat hy hom deur g’n Boer sal laat verneder nie, want Suid-Afrika is nie meer die wit man se land nie. As dit is hoe Motata dink, hoe seker kan wittes wees dat hulle sonder vooroordeel in sy hof aangehoor sal word?
Maar swart solidariteit agter die regter het begin groei oomblikke ná landdros Desmond Nair se uitspraak sonder fieterjasies.
Sondag het Mondli Makhanya, redakteur van die Sunday Times geskryf: “Daar is woede omdat die swart hand van vriendskap wat die afgelope 15 jaar uitgestrek was, weggestoot is deur die voorheen bevoordeelde segment van die samelewing.”
Wie kan stry oor swart woede? Dit word aangevoel. Makhanya se swart woede oor die “hand van vriendskap” is egter ’n elite-ding. Ek het gedink getalsgewys is daar meer swart woede oor 15 jaar se beloftes van ’n beter lewe wat nie gerealiseer het nie.
Ek kan en wil nie namens wittes praat nie. Maar ek weet baie van hulle sal sê: “Ons het nie die danige hand van vriendskap gesien nie. Al wat ons sien, is Jimmy Manyi se hand wat aan wittes beduie in die werkplek sal hulle tot in ewigheid tweedeklas-burgers bly.”
As ék mag veralgemeen: Daar is woede in die wit gemeenskap omdat hulle alewig die skuld kry. Omdat “rassisme” en apartheid geblameer word pleks van onbevoegdheid en korrupsie.
Hier’s wat my bekommer oor die klimaat van oplaaiende, wedersydse verharding wat ons hier sien: Die brugbouers wat ’n diverse land soos Suid-Afrika altyd nodig sal hê, hou op werk. Vordering ontwyk hulle te veel. Die prys van ostra-sisme in hul eie verhardende gemeenskappe raak te hoog.
En spoedig is daar niemand meer wat Suid-Afrikaners kan wys op dit wat hulle deel en wat hulle saambind nie. Dan stry niemand meer teen stereotipering en veralgemening nie.
Die uiteinde is dat Suid-Afrika weer ’n land word van ons en hulle. ’n Era toe daar gedink is as jy die politieke mag het, is jy reg, want dan moet “hulle” maak soos “ons” sê omdat “ons” baas is.
Daardie benadering het Suid-Afrika tot by die rand van die afgrond gebring. Die huidige klimaat van polarisering kan Suid-Afrika baie maklik terugsleep daarheen.
- Beeld