Ek wil nou nie skinder, maar het jy gehoor ...
2012-01-31 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Wilhelm Jordaan
Die wêreldkulture het baie spreekwoorde oor die mens se nuk om te skinder.
Soos: As die Nyl jou geheim ken, sal dit gou in die woestyn bekend word; gee ’n skinderstorie ’n voorgee van 24 uur en jy haal dit nooit in nie; om te sê “hulle sê” is so te sê ’n leuen.
Sulke spreekwoorde is ’n soort volksielkunde wat ons waarsku teen die skinderkring.
En tog doen ons dit met slu sinnetjies wat begin met: “Ek wil nou nie skinder nie, maar het julle gehoor van ...”
Die spreker pols as’t ware sy gehoor se skinderlus en trek dan gewoonlik los en voltooi die onvoltooide sinnetjie. Want mense sê selde: “Nee, ek wil die storie nie hoor nie!”
En jy luister met gretige ore hoe die spreker se gretige tong soos ’n ratse klein koggelmander tussen die lippe baljaar om die sappige storie op te dis. Ons giggel graag agterhands en agterbaks oor ’n tweedehandse storie.
Tog is daar mense wat reken skinder het groot waarde. Eerstens is skinder ’n manier om mense se morele kodes te herbevestig.
As vroue byvoorbeeld skinder oor ’n “vatterige baas” op kantoor, word ’n belangrike kode oor seksuele teistering in die werkplek beaam.
Tweedens help skinder mense om vergelykings te tref oor hoe goed of sleg hulle daaraan toe is wat belangrike lewensdinge betref.
Word daar byvoorbeeld geskinder oor hoe swak ’n werkgewer sy personeel behandel, bied dit ’n norm waaraan mense ander werkgewers se gedrag kan meet.
Derdens is skinder ’n soort “sement” vir groepsolidariteit. In die trant van: “Ons praat maar net so ’n bietjie tussen ons om ons menings oor mnr. of me. X te toets.
Dit help mos om saam te dink.”
Om dan nie saam te skinder nie, kan beteken jy word algaande uit die groep geskuif, want iemand wat weier om saam te praat, is nie te vertrou nie.
Baie mense vrees dié uitsluiting en skinder juis daarom met oorgawe saam.
Al is dit so dat skinder in ons aard is en waarde het, is dit sekerlik ook in ons aard om te vra of die waarde van skinder werklik opweeg teen die skade wat dit die beskinderde mens kan berokken – juis wanneer die storie halfwaar of onwaar is en gedra word deur die vae, onbetroubare “hulle sê” en die uitkringende uitwerking van “hoorsê.”
Skinder verhinder dat mense mekaar werklik begryp en bewus word van die omstandighede waarin ’n bepaalde storie ontstaan het en of dit werklik waar is soos dit vertel word.
In skinderkringe is daar min genade.
En dit tas jou wat skinder en die beskinderde mens se menslikheid aan op ’n manier wat die Engelse digter William Blake (my vertaling) só verwoord het:
Meer as al die leuens wat jy kan fabriseer
sal die waarheid met ’n angel
jou broer se klein verweer
tot op die bodem skeur.