Nogmaals: dis nie wetenskap óf godsdiens
2012-02-21 22:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Met ’n berig en briewe in Beeld (16 en 20 Februarie) debatteer ons al weer godsdiens en wetenskap.
Prof. Danie Veldsman, teoloog aan UP, sê byvoorbeeld in dié debat is dikwels “onkantspel” – deur teologiese en wetenskaplike fundamentaliste wat reken hul onderskeie vakgebiede spreek die laaste woord oor alles wat is.
Miskien help dit om fluitjie te blaas vir rustyd! In dié trant: Wetenskap en godsdiens hoort nie op dieselfde speelveld nie. Hou hulle dus uitmekaar, maar met die veronderstelling hulle hoef nie in konflik te wees nie.
Soos die evolusionêre bioloog Stephen Jay Gould (1941-2002) te kenne gee in Rocks of Ages: Science and Religion in the Fullness of Life.
Volgens dié benadering versamel die wetenskap feitelike kennis en formuleer teorieë oor die natuurlike wêreld. En toets voortdurend teorieë in ag genome nuwe feite.
Evolusie en die ouderdom van die aarde is voorbeelde daarvan.
Gelowiges kan dit met verrukking en verwondering aanvaar as wetenskaplike waarheid wat aangevul en gewysig word soos wat kennis toeneem.
Godsdiens vra egter ander vrae. Nie byvoorbeeld hoe oud die aarde is nie (dit is ’n wetenskaplike vraag), maar vrae soos: Waarom is daar iets pleks van niks? Waarom en waartoe die mens?
Dit het te make met betekenis en singewing – ’n menslike impuls nét so sterk as die wetenskapsbegeerte om steeds meer van die natuurlike wêreld te weet.
Daarom vertel mense stories om geloofs- en lewenswaarhede uit te druk en te ervaar, byvoorbeeld Bybel-stories, Koran-stories en Talmoed-stories. Daarvolgens kan ’n mens dan met oortuiging sê: Ek glo in ’n God omdat dit sin gee aan my bestaan, want dit is vir my die beste antwoord op lewensvrae.
So word ten minste twee dinge ontoelaatbaar in die debat godsdiens en wetenskap:
Eerstens kan jy nie wetenskaplike feite ontken of verdraai en jou geloofsinhoude as ’n alternatief aanbied nie.
Dit is juis wat sommige kreasioniste, aanhangers van “intelligente ontwerp” en ander godsdienstige fundamentalismes doen.
Só byvoorbeeld is dit sinloos om vol te hou die aarde is 6 000 jaar oud, of om te sê die Bybelse skeppingsverhaal is op sigself versoenbaar met evolusie as God se skeppingsmetode.
En dit is ewe sinloos om “natuurlike” siektes se ontstaan, verloop en genesing (en sterftes) toe te skryf aan die wil van God.
Tweedens kan wetenskaplike waarheid nie gebruik word om mense se behoefte aan singewing en lewensbetekenis as onsinnig af te maak nie.
Dit kom neer op wetenskaplike fundamentalisme wat reken die mens se sinsoekende vrae kan nét beoordeel word volgens die wetenskap se toetsstene en bewysreëls. Dit is dwaasheid.
Wetenskaplike en godsdienstige fundamentalisme is ewe onhoudbaar en ewe lewensverskralend.