Azarenka nr. 1 ná kragvertoning
2012-01-30 11:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
MELBOURNE. - Victoria Azarenka van Belo-Rusland is die nuwe nr.1-vrouespeler op die tennis-wêreldranglys ná haar sege oor die Rus Maria Sharapova in Saterdag se Australiese Ope-eindstryd.
Dit was Azarenka se eerste Grand Slam-enkelspeltitel. Sy het Sharapova oortuigend met 6-3, 6-0 geklop en veral met haar kragtige grondhoue beïndruk.
Die nuwe ranglyste is Maandag bekend gemaak.
Novak Djokovic van Serwië is steeds die nr.1-speler op die mans se ranglys - wat geen verandering tussen die topvyf-spelers toon nie - en die speler wat hy in Sondag se marathon-eindstryd geklop het, Spanje se Rafael Nadal, bly in die tweede plek.
Djokovic het Nadal in die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar met 5-7, 6-4, 6-2, 6-7 (5), 7-5 in 5 uur en 53 minute geklop - die langste Grand Slam-eindstryd tot nog toe in die professionele era.
Die Switser Roger Federer is derde op die ranglys en die Brit Andy Murray vierde. David Ferrer van Spanje is 5de.
Tussen die vroue het die Deen Caroline Wozniacki van nr. 1 tot nr. 4 uitgesak.
Die Tsjeg Petra Kvitova bly in die 2de plek, maar Sharapova klim met een plek tot in die 3de plek.
Sam Stosur van Australië klim een plek tot 5de. - Sapa-AFP